Goud vir Kaapse Vlakte-biljartspeler

Deur Jamie Wyngaardt

“Ek voel vreemd, dit is asof ek steeds ek is, maar terselfdertyd ’n wêreldkampioen. Dit is ’n wonderlike gevoel om te weet dat ek nie net myself trots gemaak het nie, maar ook my gemeenskap, my familie en my maats,” sê Universiteit Stellenbosch-student en aspirant-maatskaplike werker Shaiyene Fritz.

Die 21-jarige biljartspeler is ’n wêreldkampioen nadat sy Suid-Afrika by die 2022 Wêreld Swarbal-kampioenskapsbyeenkoms in Marokko verteenwoordig het.

Die gemeenskap waar sy grootgeword het, Lavender Hill, het ongelukkig min of geen hulpbronne gehad om haar as jongeling besig te hou nie. Soos in enige ander Kaapse Vlakte-gemeenskap kan jy egter altyd ’n ‘speletjiewinkel’ met ’n biljarttafel kry.

“Ek sê altyd om biljart te speel was my toekoms, aangesien ons nogal rondbeweeg het, en waar ek ook al gegaan het, was daar ’n winkel met ’n biljarttafel om die draai of in my straat. Ek het geoefen en hoe meer ek gespeel het, hoe meer het ek dit geniet,” sê Fritz.

Sy het gereeld by haar plaaslike winkel gespeel, en die eienaar het besluit om dit as ’n amptelike klub by die Westelike Provinsie Biljart-unie te registreer. Dit het die klub in staat gestel om die Westelike Provinsie en Suid-Afrika by verskillende kompetisies regoor die land te verteenwoordig.

   

Haar passie vir sport het haar toegelaat om te reis, teen die moeilikste kompetisie te speel en trofeë en medaljes huis toe te bring. Sy sê die sport het haar baie waardevolle lesse geleer.

“Daar is nie plek vir arrogansie en narsisme in die sport nie, net harde werk. Dit vereis karaktereienskappe wat my ook ’n beter mens maak,” voeg Fritz by.

Sy glo haar werksetiek, toewyding en passie is wat niemand van haar kan wegneem nie, en haar konsentrasie en konsekwentheid is wat haar die beste maak.

Toe sy gekies is om die Groen-en-Goud by die 2022 Swartbordspele te verteenwoordig, het sy aanvanklik nie al die fondse gehad nie. Haar ouers is egter deurentyd besig met fondsinsameling om haar te help waar hulle kan. Die Fritz-gesin het gereeld geluktrekkings gehou, boerewors verkoop en stranduitstappies vir die jeug in hul omgewing gedoen om fondse vir haar toernooie in te samel.

“Hierdie geld het gekom toe ek bekommerd was oor of ek sou kon oorleef en myself werklik sou geniet. Hierdie geld het my op meer as een manier gehelp, en ek hoop ek het die Universiteit Stellenbosch trots gemaak,” sê Fritz.

Die Universiteit Stellenbosch het ook ’n bydrae gelewer wat haar binnelandse vlugte, kos en ander benodigdhede gedek het wat sy nodig gehad het vir die twee weke in Marokko.

Fritz gee erkenning aan haar familie, vriende en borge vir al die ondersteuning.

Aan die einde van die toernooi het Suid-Afrika boaan die puntelys geëindig en altesaam 32 medaljes huis toe gebring. Om deel te wees van die span is iets waarop Fritz uiters trots is.

Op ’n vraag wie haar mentor is, sê sy: “Nie een persoon spesifiek nie, maar baie mense soos Antonio Paulsen, Glenville Jacobs, Bonita Prins, Llewellyn Sedgwick, Mike Jones, Lenyuktha Chetty, Joy Willenberg, Alexia Julius en nog baie meer het ’n rol gespeel. Daar is duidelik te veel om op te noem! Ek sal elkeen altyd dankbaar wees vir die opofferings wat hulle gemaak het om my te help om ’n wêreldkampioen te word.”

Volgende vir Fritz is die gesogte Hawleybeker-beenkoms wat in 2023 plaasvind. Sy is baie opgewonde oor dié vooruitsig.

“Dit word stadigaan ’n werklikheid dat biljart binnekort ’n Olimpiese sportkodes sal wees en ek werk hard om seker te maak dat ek, sodra dit gebeur, gereed is om deel te neem en die Olimpiese Spele te wen.”

Fritz ondersteun ten volle die veldtog om biljart as ’n bykomende sport tot die 2023 Parys Olimpiese Spele se program te voeg.