Maties Basketbal sien uit na mededingende USSA

Na ’n kort, maar mededingende ligaseisoen vir die Maroenmasjien, vestig Maties Basketbal nou hul aandag op die USSA-toernooi wat in Johannesburg by Wits Universiteit plaasvind. 

 

Vroeër die maand het beide die vroue- en manspan aan die Kaapse Basketballiga-uitkloptoernooi deelgeneem. Die vrouespan is as kampioen gekroon en die mans het as naaswenners geëindig. 

 

Hoofafrigter van die vrouespan Nathaly September, het erken dat die oorwinning haar span ’n broodnodige hupstoot gegee het in hul voorbereiding vir die USSA-toernooi, wat om die draai is. Sy het hul oorwinning toegeskryf aan twee senior spelers – Corinne Moussi en Lerato Ngakane – wat die leiding geneem het en ’n deurslaggewende rol in die oorwinning gespeel het. 

 

“As ’n afrigter voel dit goed, want ons het ’n doelwit gehad en om dit te bereik is ’n groot bonus, al die spelers het hul deel gedoen. Veral Corinne en Lerato met ons verdediger Dineo Fanampe en ons kapteine Ingrid Tredoux en Jordan Cox,” het September gesê. 

 

Daar sal vanjaar twee weergawes van die USSA-basketbaltoernooi wees, wat weens die Covid-19-pandemie vir die eerste keer sedert 2019 plaasvind. Dit sal onderskeidelik 5×5 (van 2-7 Desember) en 3×3 (van 8-10 Desember) toernooie insluit. 

 

“Voorbereidings vorder tot dusver goed, maar met die eksamen is dit bietjie van ’n uitdaging. Die spelers is egter vasbeslote. Dit sal ons eerste USSA-toernooi as ’n span wees en ek dink die spelers is terselfdertyd opgewonde en senuweeagtig. Ons sal dit een wedstryd op ’n slag vat en net ons beste in elke kragmeting gee.” 

 

Masie Ntlali, hoofafrigter vir die manspan, wys een speler uit wat die span sal help om sy doelwit by USSA te bereik. “Ons grootste toevoeging tot die span is Miguel Ferrao, hy het ’n USSA-titel saam met Wits gewen en het al op die hoogste vlak (Varsity Sport-toernooi en vir die nasionale span) gespeel. Sy positiewe invloed op en van die baan af dra ons as ’n span. Die terugkeer van ons kaptein Lutho Skweyiya en Siphiwe Zulu van ’n besering het ook die span ’n hupstoot gegee voor die toernooi,” vertel Ntlali. 

 

Alhoewel die span net met ‘n naaswenners-medalje huis toe gekom het, meen Ntlali dat dit ’n groot prestasie vir die span was, aangesien sleutelspelers weens beserings nie in aksie was nie. Hy erken ook dat die spelers se selfvertroue hoog is.  

 

“Ek is tevrede met ons vertoning, ons het baie nuwe spelers wat eerstejaars in die senior afdeling is en ek hoop ons sal die momentum in USSA aan die gang hou. Ons voorbereidings verloop goed vir USSA en ons bestuur wat binne ons beheer is. Net soos alles is daar uitdagings, maar dis deel van die proses. Wat my opgewonde maak is om saam met studente-atlete te werk en hulle te help om akademie en sport te balanseer. En seker te maak hul studies kom eerste! Ons gaan na die toernooi om mee te ding, elke span wil die titel wen so die doelwit is altyd ’n goue medalje.” 

  

Deur Kimara Singh