US verwelkom leerders van Bishop Lavis

Deur Maties Sport Media en Kommunikasie-eenheid 

 

Leerders van die Bishop Lavis-gemeenskap het onlangs ’n opwindende toer van die Universiteit Stellenbosch-sportfasiliteite gehad. Die dag was deel van ’n reeks geleenthede wat deur die SLEAK sosiale impakprojek bestuur word. Daar is met elke skoolkwartaal ’n toegewyde tema. 

 

Die tema vir hierdie kwartaal se gebeure was “droom groot”, volgens dr. Nana Adom-Aboagye, die waarnemende hoof by die Sentrum vir Sportleierskap by Maties Sport, aan die US. 

 

Die deurlopende projek het ten doel om die leerders van Bishop Lavis toe te rus met lewensvaardighede soos veerkragtigheid, vasberadenheid, moed en selfvertroue.  

 

 

“Belangriker nog, dit kan jong kinders leer oor intrinsieke motivering,” het Adom-Aboagye gesê. Sy het verduidelik dat wat hulle deur sport leer, in ander aspekte van hul lewens oorgedra kan word. 

 

Tydens hul eerste besoek op 4 Oktober het die program op veerkragtigheid gefokus, deur gestremdheidsport te gebruik as die voertuig waardeur hierdie lewensvaardigheid geleer kan word. Leerders het nader gestaan vir doelbal, ’n spansport wat spesifiek ontwerp is vir atlete met ’n siggestremdheid. Leerders het ook kans gekry om rolstoelbasketbal te probeer. 

 

Die inisiatief help om kinders bloot te stel aan verskeie moontlikhede buite die grense van hul gemeenskappe en wat hulle weet, het Adom-Aboagye gesê. 

 

Dag in Stellenbosch 

 

Die leerders het die middag se verrigtinge begin met ’n begeleide toer deur die Stellenbosch Akademie vir Sport (SAS). Dit het die akademie se moderne hoë prestasie-gimnasium, kantore, mediese kamers, konferensiesentrums en masseerkamers ingesluit. 

 

Daarna het hulle na die Stellenbosch-sokkerklub se kantore gestap. Met hul besoek het Stellenbosch-speler, Devin Titus, wat ook in Bishop Lavis grootgeword het, sy storie en ervaringe met die jong besoekers gedeel. 

 

“Die hoop was dat deur ’n paar professionele sportpersoon te ontmoet wat soos hulle lyk en miskien sommige wat uit soortgelyke agtergronde as hulself kom, die leerders sou besef dat dit nie saak maak waar jy vandaan kom wat jou lewensverhaal dikteer nie,” het Adom-Aboagye gesê. 

 

Volgens die aanwesige leerders was dit hoogtepunt van die dag om spelers van die Proteas-netbalspan, die Blitsbokke en Stellenbosch FC te ontmoet. “Dit was wonderlik om te sien hoe die kinders ’n paar oomblikke saam met dié spelers spandeer, met hulle gesels en foto’s neem saam met mense wat sommige van hulle nog net op TV gesien het.” 

 

Die leerders het ook deur die Universiteit Stellenbosch-sokkervelde, Lentelus Futsal-bane, die Stellenbosch Hoë prestasie-sentrum en Coetzenburg-atletiekstadion getoer. 

 

“Ons hoop om kinders te leer dat wanneer hulle groot droom, dit wat hulle droom hul werklikheid kan word,” het Adom-Aboagye gesê. 

 

Geskiedenis van SLEAK 

 

Die SLEAK-program is gebou op ’n bestaande projek wat in 2008 deur die Afdeling Arbeidsterapie, van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe begin is, volgens Maatje Kloppers van die Afdeling Arbeidsterapie aan die US. 

 

Die Afdeling Sosiale Impak aan die US het in 2019 interfakulteitsamewerking oor sosiale impakprojekte begin, waarna Maties Sport en die Fakulteit Teologie by die inisiatief aangesluit het. “Ons het ’n SLEAK 2.0-weergawe van die projek beplan tot voordeel van leerders, ouers en gemeenskapsvrywilligers,” het Kloppers gesê. 

 

Weens COVID-19 is die projek in 2020 tydelik gestaak, voordat dit weer volstoom aan die einde van 2021 begin het. 

 

“Die Afdeling Arbeidsterapie, Maties Sport en die Fakulteit Teologie is ideale medewerkers aangesien hulle in staat is om aan leerders ’n holistiese groei geleentheid te bied. Die Fakulteit Teologie help met groei en ondersteuning aan die ouers van die SLEAK-leerders, en Maties Sport stel die kinders bloot aan die waarde wat sport tot jou lewe kan toevoeg”, het Kloppers gesê. 

 

Volgens Adom-Aboagye het hulle positiewe terugvoer ontvang van leerders en versorgers wat tans in die program is. “Hulle het veranderinge in houdings gesien, verbetering in die skool en hoe die kinders wegbly van moeilikheid.” 

 

Om die SLEAK-projek nog meer leerders te laat bereik, benodig hulle selfs groter ondersteuning van die gemeenskap, sê Adom-Aboagye. Sy moedig ouers en voogde aan om na die projek uit te reik en by die projek betrokke te raak.