Terugblik op Maties se geskiedkundige 2022 Varsity Netbal-veldtog

Deur Maties Sport Media en Kommunikasie Eenheid

 

Maties Netbal se oorwinning in die 2022 Varsitynetbal-eindstryd was die hoogtepunt van ’n uiters suksesvolle én geskiedkundige seisoen.

 

Die Maroenmasjien het die Noordwes-Universiteit (NWU) op 17 Oktober in die eindstryd met 68-55 voor ’n stampvol Coetzenburg-sentrum verslaan.

 

Die oomblik toe Maties die 2022 Varsitynetbal-titel verower. VIDEO: Cody Hansen

 

Dit was ’n oorheersende en onoorwonne veldtog vir Maties.

 

Maties het boaan die Varsitynetbal-puntelys geëindig na sewe seges in sewe wedstryde. Maties het toe in ’n klipharde-halfeindstryd die Universiteit van Johannesburg (UJ) met 43-35 geklop.

 

Dit was Maties se eerste Varsitynetbal-kroon, nadat hulle al voorheen drie keer in die eindstryd gespeel het.

 

“Dit is so onwerklik, ek knyp myself steeds,” sê Zanele Mdodana, hoofafrigter van Maties Netbal.

 

“Dit het so vinnig gebeur, maar ek is super-trots op Maties as geheel; die bestuur en die spelers. Elke spanlid het ’n groot rol gespeel in ons sukses.”

 

Mdodana het Maties se nederlaag in die 2021 Varsitynetbal-eindstryd teen Kovsies as ’n keerpunt beskryf.

 

“Ons was verlede jaar ook in die situasie. So, dit was belangrik en nodig om vanjaar beheer te neem en seker te maak van die sege. Ek dink die span as geheel het fenomenale werk gedoen om seker te maak dat ons die trofee hier in Stellenbosch voor ons ondersteuners wen. Ek is baie trots.”

 

Maties lig die Varsitynetbal-trofee nadat hulle die Noordwes-Universiteit met 68-55 in die eindstryd in die Coetzenburg-sentrum verslaan het. VIDEO: Cody Hansen

 

Vir Mdodana was een van die vele hoogtepunt van die kompetisie die span se besonderse band en samewerking.

 

“Die spanbestuur en die spelers het elkeen geweet wat van hom of haar verwag word, wat hul bydrae moet wees en watter rol elke persoon in die span speel,” het Mdodana gesê.

 

Maties het hul eerste tuiswedstryd van die kompetisie in die halfeindstryd teen UJ gespeel. Vorige wedstryde is by óf die Universiteit van Pretoria se Rembrandt-saal óf by die Noordwes-Universiteit se amfiteater gespeel.

 

“Ons het vir die grootste deel van die kompetisie gereis, so ons moes baie aanpas. Ons moes mekaar ondersteun, want ons het weg van die huis af gespeel, en ek is net trots op hoe almal die span eerste gestel het en nie hulself nie. En daarom het ons uiteindelik sukses behaal,” het Mdodana gesê.

 

‘n Seëvierende Maties-span nadat hulle die 2022 Varsity Netbal finaal tussen Maties en NWU by die Coetzenburg Binnenshuise Sentrum, Stellenbosch, Suid-Afrika gewen het.