Maties gereed vir Varsity-netbalhalfeindstryd

Deur Cody Hansen 

Die Universiteit Stellenbosch se netbalspan pak die Universiteit van Johannesburg (UJ) in die halfeindronde van die Varsity-netbalreeks op 10 Oktober in die Coetzenburg-sentrum. 

Maties was tot dusver foutloos in die kompetisie, het al sewe hul wedstryde gewen en boaan die Varsity-netbalpuntelys geëindig. Maties mik na hul vierde Varsity-netbaleindstryd, nadat hulle ook in 2015, 2019 en 2021 se finale stryd gespeel het. 

 

 FOTO: Twitter/@VarsityNetball 

UJ speel vir die eerste keer in ’n halfeindstryd van die reeks. UJ, wat deur die Proteas-kaptein Bongi Msomie afgerig word, het vierde op die puntelys geëindig. Die ‘Orange Army’ het die Universiteit van Pretoria (Tuks) naelskraap geklop om die laaste kwalifiserende posisie te verseker ná ‘n opwindende oorwinning van 53-51 oor die Pretoriase span in die laaste wedstryd van die rondomtalie-fase. 

Die vorige ontmoeting tussen Maties en UJ was baie spannend én opwindend. Maties moes van agteraf terugveg om met 44-42 te wen. Die wedstryd was in die vierde ronde van die reeks.  

 

FOTO: Twitter/@VarsityNetball 

Onder leiding van afrigter Zanele Mdodana en kaptein, Sian Moore, het Maties ’n geskiedkundige oorwinning by die USSA-toernooi in Julie behaal. Dié sege – die eerste in meer as twee dekades – sal Maties die nodige selfvertroue en aanmoediging gee om hul eerste Varsity-netbalkroon te verower.  

Die wedstryd begin om 19:00 en kaartjies is aanlyn reeds uitverkoop. Die aksie is egter regstreeks op SuperSport.