US-doelbal gereed om seisoen op hoogtepunt af te sluit

Met ’n suksesvolle klubseisoen tot dusver, is die Maties-doelbalklub op die punt om die Wes-Kaapse rekord vir die meeste agtereenvolgende oorwinnings te verbeter. Die span is tans onoorwonne na 11 wedstryde, sê Wentzel Barnard, ParaSport Bestuurder by Maties Sport. 

Die 2022-seisoen tot dusver 

Die sesde toernooi van die seisoen is op 15 Oktober in die Universiteit Stellenbosch se Danie Craven-sportsaal. Aksie begin om 09:00. Indien Maties ’n driekuns aan seges behaal, sal hulle nie net hul eie rekord van 13 agtereenvolgende oorwinnings verbeter nie, maar ook die nuwe rekordhouers vir die Wes-Kaap wees, sê Barnard. Die klubseisoen se uitspeelwedstryde is op 29 Oktober weer in Stellenbosch. 

Sedert 19 Mei 2012 het Maties 91 uit 111 wedstryde gewen, ’n sege persentasie van 81,98%, volgens Barnard. 

Maties se uiteindelike doelwit vanjaar is om hul derde agtereenvolgende Lucas van der Walt-skild te wen, ná ’n onderbreking van twee jaar weens Covid-19. Die span het ook die titel in 2018 en 2019 gewen, sê Marius Coetzee, ’n Maties Doelbal-verteenwoordiger. 

Die geskiedenis van doelbal 

Doelbal het in 1946 begin as deel van die rehabilitasieproses vir blinde veterane van die Tweede Wêreldoorlog, sê Coetzee. In 1976 het die sport sy debuut op Suid-Afrikaanse bodem gemaak; ’n jaar nadat dit as ’n Paralimpiese sport by die Paralimpiese Spele in Toronto, Kanada bekend gestel is. 

Tydens ’n doelbalwedstryd is alle spelers se oë met ’n blinddoek toegemaak. Dit is sodat die siende en siggestremde spelers op ’n gelyke voet kan meeding, sê Coetzee. 

Doelbalballe het klokkies in sodat die bal se beweging hoorbaar is en die baan se lyne is gemaak van toutjies wat oorgeplak is sodat spelers die buitelyne van die baan kan opspoor en hulself kan oriënteer, verduidelik Coetzee. 

“Doelbal is ’n unieke, dinamiese spansport wat spoed en akkuraatheid vereis,” sê Coetzee. Op internasionale vlak bereik spelers ’n gooispoed van tot 60 km/h. Volgens Coetzee is “kommunikasie en luister” deurslaggewend. 

Doelbal by die US 

Die Maties Doelbalklub is in 2008 gestig. Die klub het sy eerste toernooi op 18 April 2009 teen Innovasie vir Blindes, Liga van Vriende van Blindes en Klub Sonskyn gespeel. 

In 2022 het die klub ook vir die eerste keer aan die vroueliga deelgeneem. Vanjaar het die vroueklub-eindstryd op 24 September in Worcester plaasgevind waar die Hein Wagner Akademie (HWA) en Maties in ’n taai stryd teen mekaar te staan gekom het. HWA het uiteindelik die wedstryd met 8-6 wen. 

Volgens Coetzee probeer die klub altyd bewusmaking rondom die sport by die Universiteit Stellenbosch skep. Hy moedig vrywilligers, beide siende en siggestremd, aan om uit te reik en by die klub aan te sluit vir toernooie. 

Deur Kara Olivier