Maties kraai koning in Varsity Krieket-kampioenskapsbyeenkoms

Die 2022 Varsity-sportfees het onlangs by die Universiteit van Pretoria (Tuks) plaasgevind. Die vyfdaagse byeenkoms was van 3 tot 8 Oktober en universiteitspanne van regoor die land het meegeding vir die top-eerbewyse.

 

Die geleentheid het ook sportliefhebbers die kans gegee om ’n verskeidenheid sportkodes en vermaak op een plek te sien.

 

Met die naweek se T20 Varsity-kriekettoernooi het Maties daarin geslaag om hul eerste titel te verower deur die Noordwes-Universiteit (NWU) in ’n naelbyt-eindstryd te klop. Ten spyte van die tuisveldvoordeel kon Tuks nie die eindstryd haal nie, terwyl die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie vir die eerste keer ooit in die halfeindronde gespeel het.

 

Maties het daarin geslaag om al hul wedstryde te wen ondanks die feit dat hulle elke keer tweede moes kolf. Dit is ’n bewys van die spelers se vaardigheid en talent.

 

Volgens Ryan Bailey, hoofafrigter van Maties Krieket, het die span daarin geslaag om sy volle potensiaal in die Varsity-kriekettoernooi te bereik. “As afrigters skets ons die perfekte prentjie en ons sien die vermoëns van die spelers, maar dit is die spelers wat in daardie droom moet inkoop en uitleef,” sê Bailey.

 

Goeie en konsekwente kolfwerk van die middelorde-kolwers met die verloop van die toernooi het verseker die span behou momentum as die top orde sukkel.

 

Maties se George van Heerden het uitgeblink met die kolf. Hy het 207 lopies gemoker teen ’n kolfgemiddelde van 51.8.

 

 

Naelbyt-eindstryd

 

Ondanks vyf Suid-Afrika o.19-spelers – Van Heerden, Michael Copeland, Valentine Kitime, Ethan Cunningham en Kaden Solomons – in Maties se beginspan, was dit ’n sukkel-sukkel begin tot die eindstryd. Die NWU se eerste paaltjie het eers in die 13de boulbeurt geval.

 

Die Maties-boulers het egter hul beste vir die laaste paar boulbeurte gehou en die NWU is beperk tot 161/5 in 20 beurte.

 

Die speler van die toernooi Benjamin Ward het twee deurslaggewende paaltjies laat kantel en die wedstryd in Maties se guns geswaai. “Om ’n draaier in die kragspel in te span, kan ’n groot waagstuk wees, maar Ward het die uitdaging aanvaar en nie teleurgestel nie.”

 

Die kragspel-reël verseker die verdubbeling van lopies in ’n boulbeurt van die kolfspan se keuse.

 

“Ward het die kragspel-beurt geboul en dit was deurslaggewend. Sy vertoning het ’n sleutelrol in ons algehele oorwinning gespeel,” sê Bailey.

 

Maties het die totaal gemaklik gejaag en in styl geëindig toe Don Glover ’n ses moker om die sege in die 18de boulbeurt te beklink.

 

Van krag-tot-krag

 

Keagan van Aarde, sportbestuurder vir krieket by Maties Sport, het die 2022-krieketseisoen as een van klub se suksesvolste ooit beskryf. Beide die hoë prestasie program en die krieketklub het volgens hom besonder goed gevaar. “Ons kan nou net van krag-tot-krag gaan in die komende seisoen en by die USSA-kriekettoernooi in Desember,” sê van Aarde.

 

Die span het reeds met voorbereidings vir die USSA-toernooi, wat in Desember by Tuks plaasvind, begin. Spelers en bestuur sal put uit die goeie herinneringe van hul oorwinning in die Varsity-kriekettoernooi terwyl hulle gereed maak vir nog taai kragmetings.

 

Die Maties-span het Bolandliga-wedstryde gebruik om die hoë standaarde wat gestel is, te handhaaf. Dit was ook waardevolle voorbereiding vir die USSA-toernooi aangesien dit tans eksamen is.

 

Die span sal fokus op die foute wat tydens die toernooi ingesluip het om te verseker dat dit nie herhaal word nie, aldus Van Aarde. “Ek is baie opgewonde oor die groep spelers en wat hulle kan bereik.”

 

Van Aarde noem Maties se oorwinning oor Tuks as ’n Varsitytoernooi-hoogtepunt, veral met inagneming van die twee spanne se mededingende geskiedenis. “Ek dink ons kan verwag dat Tuks die USSA-toernooi sal gebruik om wraak te neem.” Maties sal egter hierop voorbereid wees.

 

Deur Kara Olivier