Gustav Venter in krieketterme

Ek het die voorreg gehad om baie ure in gesprek met Gustav oor krieket te spandeer. Ons het al KSA se probleme opgelos! Ek het ook die geleentheid gehad om vir baie jare saam met hom in ons jaarlikse tweedaagse  krieketwedstryd te speel. Daarom dink ek dit gepas om sy tyd by Maties Sport met ’n paar krieket-analogieë uit te lig. 

  

Die kolfblad: ’n Krieketwedstryd word op ’n 17,68m-kolfblad gespeel. Dit kan eiehandig die uitslag van die wedstryd bepaal. By sommige plekke is die blad droog, stowwerig en bevorderlik vir draaiboulers wat die veldwerkspan bevoordeel, by ander plekke lyk die blad soos die N1-hoofweg en is dit meer gunstig vir die kolfspan. Die kolfblad kan met Maties Sport vergelyk word. Maak nie saak wat die speelveld-toestande op ’n spesifieke dag is nie, daar word van ’n kolwer verwag om sy of haar beste houe vir die span te speel, en ek voel dat Gustav beslis baie goeie houe vir die Maties Sport-familie gespeel het op kolfblaaie wat die veldwerkspan soms meer bevoordeel het as die kolfspan. Hy het altyd sy beste vir die span gegee. Hy het verskeie wipballe, streepballe, goëlballe ens. ontduik terwyl hy voor die paaltjies gestaan het. En wanneer die geleentheid hom voorgedoen het, het Gustav wêreldklas-dryfhoue gespeel. 

  

Die kaptein: Die kaptein van ’n krieketspan is die een wat ’n enorme invloed op sy of haar spanmaats het. ’n Kaptein met ’n kalm houding kan help om angs, stres of spanning onder die span te verminder in ’n spannende wedstrydsituasie. ’n Kaptein met veggees kan help om sy/haar span tot grootsheid te inspireer wanneer dit lyk of hulle gaan verloor. Gustav het in sy leiersrol by Maties Sport nog altyd ’n unieke perspektief op uitdagings wat Maties Sport in die gesig staar, gebring. Hy het altyd ’n kalm ingesteldheid en duidelike perspektief gehad. Wie sal ooit vergeet van sy unieke manier om sy punt oor te dra wat mens ná die vergadering na jou woordeboek laat gryp in ’n poging om hom te verstaan! 

  

Toetskrieket:  Toetskrieket is vir die puriste. Dis die oorspronklike formaat van die spel. Dit is toetskrieket wat ’n krieketspeler se vaardighede tot die uiterse beproef. Dié formaat is oor vyf dae en word beskou as die hoogste standaard van die spel; krieket se weergawe van die Heilige Graal. Dit gaan oor wie die langste in die wedstryd kan bly. Gustav se tyd by Maties Sport was niks minder nie as ’n vyfdaagse toetskrieket-wedstryd. Hy het die toets van die tyd deurstaan en gewys dit gaan nie oor hoe vinnig jy lopies aanteken nie, maar eerder oor jou vermoë om te bly staan tot die einde. Ons bedank hom vir die baie ure wat hy toegewy het daaraan om Maties Sport te help om vorentoe te beweeg. 

 

Honderdtal: ’n Honderdtal beteken ’n kolwer het 100 lopies aangeteken. Dit is ’n belangrike punt in die loopbaan van ’n kolwer en word gevier deur die kolwer wat sy/haar kolf lig en hul helmet afhaal. Selfs al word die wedstryd verloor, is ’n honderdtal ’n merkwaardige prestasie. So, selfs al verlaat Gustav ons en verloor Maties Sport ’n groot bate, leer sy vertrek ons van die belangrikheid van vieringe soos die een wat ons vandag hier hou. Selfs met al die druk en gejaagde dae by die kantoor en by die huis, moet ons ons helmet van las afhaal en ’n oomblik neem om alles wat ons op ’n daaglikse basis bereik, te vier. Gustav, ek dink dis gepas om jou helmet af te haal, jou kolf te lig en jou puik kolfbeurt by Maties Sport te vier. 

 

Goosie, jy het ’n goeie eerste beurt gehad met die kolf en die bal. Jy het heelwat grenshoue gemoker, en baie keer vyf paaltjies in een beurt plat getrek.  Ek wens jou alles van die beste toe vir jou tweede beurt in Edinburgh. Mag daar oor die volgende paar jaar honderdtalle en 10 paaltjies in ’n beurt gevier word…en mag daar geen goue eendjies op jou telkaart wees nie! 

  

Deur Grant van Velden