Pro Events en Maties Sokker smee vennootskap

Pro Events en Maties Sokker het ’n vennootskap gesmee wat ’n skenking vir hoë prestasie-beurse sowel as ’n borgskap om die Maties Sokker-program te bevorder met ’n fokus op Kampussokker-, liga- en die USSA-toernooi, insluit. 

 

Pro Events het besluit om in die Maties-sokkerklub te belê danksy Maties se ryk geskiedenis van sport sukses, sê die hoof van bedrywighede by die maatskappy mnr. Edward Beeka. “Maties Sport se holistiese benadering om inklusiwiteit te omhels vir talentvolle studente om aan sportkodes en akademiese programme deel te neem, is prysenswaardig.” 

 

Die belegging sal talentvolle studente-atlete wat deur Maties Sokker geïdentifiseer is uit gemarginaliseerde gemeenskappe help om akademiese uitnemendheid sowel as sport sukses te behaal, en sodoende ’n belegging in holistiese welstand te verseker. 

 

 

Beeka erken verder dat sport ’n kragtige instrument is om sosiale kohesie te skep, en oor die afgelope twee dekades het dié maatskappy verskeie gemeenskapsgebaseerde sportklubs asook atlete wat internasionaal meeding met trots geborg. 

 

Beeka het gedeel dat Pro Events trots is op sy eiesoortige kultuur, sterk waardes en onwrikbare toewyding om ’n verskil in gemeenskappe te maak. Vir Pro Events is transformasie slegs moontlik as daar ’n samewerkende inisiatief is om gelykheid en geleenthede vir groter inklusiwiteit te bevorder. 

 

Die hoofdirekteur van Maties Sport, Ilhaam Groenewald, het haar waardering vir die Pro Events-belegging uitgespreek en gesê dié borgskap is in lyn met die Universiteit Stellenbosch se strategiese temas, naamlik: ’n voorspoedige Universiteit Stellenbosch; ’n transformatiewe studente-ervaring en doelgerigte vennootskappe en inklusiewe netwerke. 

 

Ellroy Smith, sportbestuurder vir Maties Sokker, het gesê die belegging sal die klub help om meer beurse aan studente-atlete en finansiële bydraes vir studente-atlete in nood te gee. “Ons is opreg dankbaar teenoor Pro Events wat in die klub en ons studente-atlete belê,” sê Smith. 

Deur Kimara Singh