Justine Palframan – Maties Sport se legendariese studente-atleet

Maties Sport het in Augustus – wat in Suid-Afrika as Vrouemaand herdenk word – die geleentheid gebruik om van die buitengewone vroue, wat met durf en grasie ’n verskil maak in die lewe van ons studente-atlete en die universiteitsportomgewing, te vier.

Justine Palframan – Maties Sport se legendariese studente-atleet

Justine Palframan het die afgelope nege jaar gereeld bygedra tot haar status as ’n Maties Sport-legende.

Justine – ’n 200m- en 400m-atleet – is die beste voorbeeld van ’n studente-atleet, aangesien sy gedurende haar studiejare, nadat sy in 2013 haar loopbaan as ’n Matie begin het, ook aan die Olimpiese Spele (Rio, 2016) en Wêreldkampioenskapbyeenkomste (2013, 2015, 2017) deelgeneem het, ’n wêreldtitel by die Wêreldstudentekampioenskap (2015) gewen het en verskeie Suid-Afrikaanse senior titels in sowel die 200m as die 400m behaal het.

Haar lys eerbetone en prestasies is baie lank, maar vir Justine gaan haar nalatenskap oor meer as wat sy op die atletiekbaan bereik het. Haar rol as vrou in die samelewing en as rolmodel is vir haar baie belangrik.

“Wanneer ek Maties verlaat, wil ek graag ’n impak gemaak het, ongeag hoe groot of klein hierdie impak is. Ek wil graag hê iemand moet kyk na wat ek bereik het en die reis waarop ek was, en gevul word met hoop vir hul storie,” sê Justine.

“Vrouemaand is ’n tyd om al die ongelooflike vroue in ons lewe te vier – om te vier wat hulle bereik het en die belangrike rolle wat hulle in ons samelewing speel.”

Oor uitdagings voeg sy by: “Wanneer dit kom by vroue in sport, is daar steeds nie genoeg geleenthede nie. Daar is ’n tekort aan die ontwikkeling van jonger vroue-atlete en geen langtermynplan om vroue-atlete in sport te hou nie.”

Vir sommige mense sou die feit dat hulle nie vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer het nie, hartverskeurend gewees het, maar vir Justine is dit belangriker om in die oomblik te leef en dit te waardeer. Haar huidige motto bewys dit.

“Ek probeer leef volgens ’n aanhaling van Mandy Hale: ‘Go with the flow. Force nothing. Let it happen… trusting that whichever way it goes, it’s for the best.’ Ek probeer om verwagtings in die lewe (ekstern en intern) te laat gaan en die lewe te laat wees wat dit is, nie wat ek dink dit moet wees nie. Om teenwoordig te wees in elke oomblik van my lewe, goed en sleg.”

Haar raad vir meisies wat sport hul lewe wil maak, is: “Ek glo ’n mens moet holisties leef. Sport hoef nie jou lewe te wees vir jou om lief daarvoor of passievol daaroor te wees nie. Fokus op jou sport, maar moenie vergeet om alles wat die lewe jou bied, te ervaar nie. Onthou om tyd te maak vir die mense wat belangrik is vir jou, en vir jou stokperdjies. As jy gelukkig is, sal jy beter presteer en gereed wees vir ’n lewe ná sport.”