Sasha-Lee Petersen – Afrigter van Maties Netbal se juniorspan

Maties Sport het in Augustus – wat in Suid-Afrika as Vrouemaand herdenk word – die geleentheid gebruik om van die buitengewone vroue, wat met durf en grasie ’n verskil maak in die lewe van ons studente-atlete en die universiteitsportomgewing, te vier.

Sasha-Lee Petersen – Afrigter van Maties Netbal se juniorspan

Daar is geen twyfel dat Sasha-Lee Petersen gebore is om uitdagings aan te gryp en dit te verander in geleenthede vir groei nie.

Nadat sy sewe seisoene lank vir Maties Netbal se eerste span gespeel het, is Sasha-Lee nou Maties Netbal se juniorontwikkelingsafrigter.

In haar eerste jaar as afrigter is sy nie net verantwoordelik vir Maties se o.19-span nie, maar is sy ook betrokke by die gemeenskapafrigtingspan en die onderskeie afrigtingsklinieke. Sy doen dit alles terwyl sy ook voltyds aangestel is as hoofafrigter van die Hoër Meisieskool Bloemhof se netbalspan.

“My doelwit by Maties Sport is om seker te maak dat my spelers deur die loop van die seisoen groei – nie net as spelers nie, maar ook as mense. Ek hoop om ’n verskil te maak in die gemeenskap en om jong meisies die vaardighede te leer wat hulle nodig het om hul doelwitte te bereik.”

Om jong vroue te inspireer – aanvanklik as ’n speler en nou nie net as ’n afrigter nie, maar veral as ’n vrou in ’n afrigtingsposisie – is baie belangrik vir Sasha-Lee.

Daarom is Vrouemaand ’n baie spesiale maand vir haar.

“Vrouemaand is ’n tyd om die vroue te onthou wat vir ons regte geveg het en wat so baie dinge vir vandag se vroue moontlik gemaak het. Vroue wat opofferings gemaak het en wat deure oopgemaak het sodat jong meisies ’n stem kan hê en hul drome kan bewaarheid.”

Sasha-Lee wil graag hê sportvroue moet erkenning geniet en beloon word vir wat hulle doen.

“Ek dink die grootste uitdaging vir vroue in sport op die oomblik is die feit dat hulle nie genoeg erkenning kry nie en ook dat hulle nie voldoende vergoeding verdien in hul onderskeie sportsoorte nie.”

Sy glo vas daarin om “die 1% te bly nastreef”. Dit gaan nie daaroor om alles op een slag te bereik nie, maar eerder oor die klein ekstras soos een meer herhaling in die gimnasium. Uiteindelik dra al die ekstra 1%-pogings by tot die verandering.

Haar raad vir jong vroue wat droom van ’n lewe in sport, is eerlik en reguit:

“Die sportwêreld is nie maklik nie, maar niemand is hier omdat dit maklik is nie. Jy moet hard werk vir dit wat jy wil hê, toegewyd wees, ekstra moeite doen en jouself verantwoordbaar hou. Daar sal dalk struikelblokke op jou pad wees, maar jy moet deurdruk, ongeag wat. Moenie dat enigiemand jou vertel dat jy dit nie kan doen nie!”