Lenise Marais – Maties Hokkie-vroue se afrigter

Maties Sport het in Augustus – wat in Suid-Afrika as Vrouemaand herdenk word – die geleentheid gebruik om van die buitengewone vroue, wat met durf en grasie ’n verskil maak in die lewe van ons studente-atlete en die universiteitsportomgewing, te vier.

Lenise Marais – Maties Hokkie-vroue se afrigter

Lenise Marais, afrigter van Maties Hokkie se vrouespan, is nie net aan hokkie toegewy nie, maar wil ook graag ’n leier wees en vroue in sport help.

Lenise – ’n voormalige Maties-hokkiespeler, is in Januarie 2021 aangestel en was bevoorreg genoeg om haar spelers in aksie te sien aangesien die hokkieseisoen begin het voordat Covid-19 weer ’n stokkie daarvoor gesteek het.

Sy is baie duidelik oor haar doel en visie vir Maties Hokkie se vroue.

“Ek wil studente-atlete ontwikkel wat in die hoëprestasiesfeer kan presteer en ook ’n inklusiewe ruimte kweek wat aandag gee aan ons span se waardes en kultuur. Dit sal ook lekker wees om vir ’n paar medaljes mee te ding.”

Lenise is baie bewus van Maties-vroue se nalatenskap in hokkie en sport in die algemeen. Sy het inderdaad self ook ’n rol in hierdie nalatenskap gespeel en sy glo vas in vroue se potensiaal indien hulle ’n kans gegun word.

“Ons grootste uitdaging as vroue in sport is steeds gelyke geleenthede en hulpbronne vir vrouebelanghebbers – sportvroue, amptenare, administrateurs, media, ens. – in sport,” sê sy.

“Gedurende Vrouemaand erken en vier ons vroue. Daar is tallose vroue in ons land wat betekenisvolle en positiewe bydraes tot ons samelewing maak. En om eerlik te wees – hulle moet eintlik elke dag van die jaar verheerlik word!”

Diegene wat Lenise ken of wat al haar werketiek beleef het – as speler én afrigter – sal jou kan vertel dat sy nie gewoonlik wag vir iets om te gebeur nie.

Geen wonder die bekende Maya Angelou se aanhaling is haar lewensmotto nie: “Do the best you can until you know better. Then, when you know better, do better”. Dit is ook ’n instelling wat sy by haar spelers vestig. Sy moedig jong spelers aan om so ver moontlik verantwoordelikheid te aanvaar vir hul eie geleenthede en uitkomste.

“Oefen en ontwikkel jou vaardighede, bemeester jou kuns, en verbeter jou begrip van die spel. Waar jy jou ook al bevind: wees dapper, wees jy en gaan voluit.”