Nichole Taljaard – Speler van die Toernooi

Sy is reeds ’n Maties Sport-legende en nou is Nichole Taljaard ook ’n Varsity Netbal-legende nadat sy as die 2021 Speler van die Toernooi aangewys is.

Vanjaar was Taljaard se vierde Varsity-netbaltoernooi. Dit was ook die tweede keer wat sy as een van die beste spelers in die toernooi uitgesonder is. In 2018 was sy een van drie voorste speler in die reeks.

Vanjaar was die hulpdoel saam met haar Maties-spanmaat en verdediger Syntiche Kabuya en UJ se hulpdoel-verdediger Monica Gomases benoem.

“In alle eerlikheid, ek het nooit verwag om die toekenning te ontvang nie. Selfs toe die drie genomineerdes bekend gemaak is, was ek seker Syntiche sou dit kry,” het Taljaard vertel.

“Ek het goeie oomblikke in die toernooi gehad. Dit was egter meer ’n gevoel dat die span baie goed saam speel eerder as ek wat as individu uitblink.

“Om die erkenning te kry beteken so baie vir my. Ek het die mees ongelooflike span wat my vertrou. Dit sal nie vir my moontlik gewees het om te speel soos ek speel sonder hul vertroue in my nie. Ek is ook oneindig dankbaar vir die bestuur vir die ondersteuning en liefde vir my. Vir die hoeveelheid kere wat hulle in my geglo het…veral die kere toe ek nie in myself geglo het nie.

“Ek is dankbaar vir die feit dat ek omring is met mense wat bereid is om my te help en te ondersteun in my strewe om die beste speler wat ek moontlik kan wees, te wees.”

Vanjaar was daar geen toeskouers om voor te speel nie weens die Covid-19 regulasies. “Ek was deel van die mees ongelooflike span. Die manier waarop ons mekaar ondersteun het, het dit amper laat voel asof jy voor ’n skare mense speel!”

Tans speel Taljaard vir die Southern Stings in die Telkom Netbal-liga. Sy beplan om verder in Mediese Prostese te gaan studeer aan TUT. Sy sal haar netballoopbaan in Pretoria voortsit.

“Ek hoop steeds om eendag vir die Proteas te speel as die geleentheid hom voordoen.”