Jy mag haar dalk nie raaksien nie, maar as daar ’n byeenkoms by Maties Sport is – groot of klein – kan jy maar weet Kim Coetzee is êrens en orals.
Lank voordat die gaste opdaag, sweet sy al met die logistiek, nodige vereistes, verskaffers, kwotasies, goedkeurings en sigblaaie. Terwyl die byeenkoms aan die gang is, sien jy haar dalk rondhardloop – besig om probleme op te los met ’n radio in die een hand en ’n selfoon in die ander. En wanneer almal tevrede huis toe gaan, is Kim steeds daar – saam met die span skoonmakers.
’n Bekende grappie binne Maties Sport gaan oor Kim se pedometer op ’n dag soos met ’n Varsitybeker-wedstryd waar daar 16 000 toeskouers is en honderde verskillende aksies uitgevoer word. “My rekord is 35 000 tree in een dag, wat 07:30 begin het en eers 23:30 klaar gemaak het!” vertel Kim.
Kim kla egter glad nie. “Ek is mal oor wat ek doen. Ja, daar is baie administrasie betrokke en vereistes wat nagekom moet word, maar daar is ook ’n groot mate van kreatiwiteit betrokke by die beplanning van ’n geleentheid. Selfs om ’n antwoord op ‘hoe laat ek hierdie werk?’ te kry, is ’n kreatiewe proses,” sê sy.
Sedert sy in 2014 by Maties aangesluit het, het Kim die kompleksiteite van plaaslike, nasionale en internasionale sportgeleenthede begin bemeester – saam met gevestigde hoogtepunte soos die jaarlikse Maties Sporttoekenningsgala.
“Ons hou gemiddeld 90 geleenthede per jaar – van klein byeenkomste tot USSA-kompetisies, Varsity Sport-toernooie en internasionale geleenthede soos die T20 Vroue Krieket-wêreldbekertoernooi in 2022, en die o.20 Wêreld Rugby Kampioenskappe in 2023 en 2024. Volgende op die lys is die FISU Rugby Sewes-wêreldkampioenskap in 2026.”
Wanneer sy oor die FISU Sewes praat, rol sy haar oë. Dit is nie oor hoe uitdagend dit gaan wees nie, en ook nie oor sy sonder respek vir die geleentheid is nie – dis die klassieke Kim manier waarop haar brein begin werk as sy dink aan die 11 maande wat voorlê voor die toernooi begin. “My brein is altyd besig met idees. Ek is gereed daarvoor. Ek het selfs al choreografie aangeleer vir ’n dansgroep, en ek skets gedurig planne, want nie almal lees sigblaaie nie. Drikus Hancke noem my die ‘Digitale Picasso’,” lag sy.
Kim gee krediet aan haar vroeë jare in die hotel- en gasvryheidsbedryf in Stellenbosch as die grondslag vir haar die pad wat haar loopbaan tans stap. Sy glo daardie jare het haar geleer “om alles op een slag te sien, maar steeds op die detail te fokus”.
“Dis wat ’n goeie beplanner maak. Jy moet aandag gee aan elke klein komponent, maar terselfdertyd die groter prentjie in fokus hou … en jy moet dit maklik laat lyk en wys dat jy alles onder beheer het. Soos ’n eend: skop wild onder die water, maar lyk kalm bo die water.”
Kim, ’n ma van vier kinders (tussen 18 en 24 jaar oud) en ouma van een, wat volgens ouma soos ’n kloon van haar is, sê haar benadering tot werk is dieselfde as haar benadering tot ouerskap. “Ons kinders kom nie met instruksies nie, so ons maak foute, ons groei in begrip en vaardighede, ons maak reg en ons gaan aan. Ons gaan aan uit liefde vir ons kinders en vir die gewenste uitkoms. My eenvoudige lewens- en werkfilosofie is om lief te wees vir dit wat ek doen.”
Baie mense weet nie dat Kim oorspronklik in diesel-werktuigkunde opgelei is nie. “Ek het nog nooit ’n behoefte gehad om mooi of skoon werk te doen nie, so om vir 16 uur ’n dag te sweet tydens kompetisies pas my perfek!”
