Anche sê: ‘beweeg, beweeg, beweeg …’

As Maties se Senior Sportbestuurder, Anche Nortje die geleentheid kry, sal sy al die personeel van die Stellenbosch Universiteit graag wil betrek by fisieke welstand – of dit nou joga, meditasie, bewustelike stap of selfs masserings is.

En dit alles as deel van hul werksdag!

“Dit maak besigheidsin,” sê die bestuurder van Maties Hokkie en die Eenheid vir Ontspanning en Aktiewe Lewenstyl (RALU). “Hoe meer jy in jou personeel belê, hoe meer kry jy uit hulle.”

Anche het maandelikse masserings vir Maties Sport-personeel ingestel, Woensdag-Welstandswandelinge en elke tweede Vrydagoggend ’n 20-minuut lange welstandsessie – met egte barista-koffie! En al is die mans dalk nog versigtig om meditasie te omhels, groei die program se gewildheid.

“Die etos agter die personeelwelstandsprogram en die student-gefokusde RALU-program is om mense uit die vier mure en van hul stoele af en aan die beweeg te kry. Nie noodwendig om te sweet nie, maar om gegrond te wees; om jou denke te aktiveer sodat jy die beste weergawe van jouself kan wees. Beweging is lewe. Kom op jou voete sodat jy op jou voete kan dink,” sê sy.

Vir studente dryf sy die gewilde Bumper Nights – gereelde aandgeleenthede by Coetzenburg waar enigiemand, op enige vlak, kan deelneem aan ’n verskeidenheid aktiwiteite: van spansport tot kultuurspeletjies, e-Sport, skaak en mini-gholf…of sommer net kom kuier in die vars lug onder Coetzenburg se spreiligte in ’n veilige ruimte.

Anche het in 2004 as student aan die Stellenbosch Universiteit begin studeer in Sportwetenskap en het hokkie gespeel tot 2011. Ná haar nagraadse onderwysdiploma het sy haar pad begin soek en in onsekerheid onder andere tennis-afrigting en administratiewe werk aangepak.

“Ek was ’n verlore individu, onseker oor my pad. Maar toe kry ek in 2015 ’n deeltydse administratiewe pos by die Maties-hokkieklub,” onthou sy. Dit was ’n tuiskoms wat gelei het tot haar groei van administrateur tot koördineerder, toe bestuurder en nou Senior Sportbestuurder: Hokkie en RALU.

“Jy moet voortdurend groei in die lewe. Probeer, maak foute, probeer weer. Aan die begin van my loopbaan is vir my gesê ek is ‘regtig swak’ in ’n sekere funksie van my werk. Dit het my gemotiveer om die beste in daardie area te word – en daardie funksie is nou sentraal tot wat ek elke dag doen.”

Gegewe haar ervarings as student-atleet by Maties Sport en die pad wat sy tot hier gestap het, voel Anche sy is in ’n goeie posisie om studente-klublede deur sport te begelei. “Sport leer jou van die lewe: tydbestuur, die bou van verhoudings, aanspreeklikheid en die waarde van gemeenskap en spanwerk. Die lewe gaan nie net oor ‘ek-ek’ nie; ons is deel van ’n groter geheel.”

Anche, wat haarself as ’n ewige student beskryf, het intussen lewensoriëntering begin studeer – nie net om haar studente en span beter te dien nie, maar ook om haarself beter te verstaan en te ontwikkel. “Persoonlike ontwikkeling is ’n voortdurende proses en belangrik vir almal. Maar dit is veral belangrik vir vroue, wat geneig is om hulself te min te ag, en dikwels verstom is wanneer hulle sukses behaal.”

Binne Maties Hokkie is geslagsgelykheid deel van die spel. “Ons maak hier ’n bewustelike besluit om nie een geslag bo ’n ander te prioritiseer nie. Ons oefen, vier fees en treur gelyk,” sê sy.