US-GAPS-program fokus op “ontwikkeling van atlete in ons sorg”
Daar is geen regverdiging vir para-atlete uit Afrika om by internasionale multisportgeleenthede op te daag om hul land met trots te verteenwoordig, en dan swak presteer omdat daar nie in hul ontwikkeling belê is nie.
Om atlete, hetsy gestremd of nie, na hierdie geleenthede toe te stuur sonder dat daar voldoende tyd en geld in hul ontwikkeling bestee is, is ’n belediging vir die land, sy leierskap en die atlete self.
Dit was die oorheersende sentiment by ’n byeenkoms van sleutelrolspelers wat by die Statebondsport se GAPS-program (die Engelse akroniem vir Gather, Adjust, Prepare, Sustain) betrokke was. Die geleentheid is op 23 Julie 2025 in die Universiteit Stellenbosch se Coetzenburg Sentrum aangebied.
Die geleentheid getiteld Inside GAPS: Powering Inclusive Sport for a Better Commonwealth, is presies ’n jaar voor die afskop van die 2026 Statebondspele in Glasgow, Skotland, gehou.
Die vriende van GAPS het interaksie gehad met 38 atlete en afrigters van 13 Statebondspele-verenigings (SSV’s) wat van 19-26 Julie 2025 aan die week-lange 2025 GAPS Afrika Stellenbosch-kamp deelgeneem het. Die atlete het hul talente en die harde werk van afrigters ten toon gestel in ’n kragoptel- en atletiekkompetisie tydens die geleentheid.
Die kamp het gefokus op vaardigheidsontwikkeling vir atlete en afrigters ter voorbereiding vir die para-atletiek- en para-kragoptelkompetisie in Glasgow aanstaande jaar, sowel as ander kompetisies.
Die GAPS-inisiatief bevorder gelykheid, insluiting en geleenthede vir para-atlete en hul afrigters uit Statebond-lande met hulpbronuitdagings wat histories onderverteenwoordig is by die spele.
Maties Sport en die US is al sedert 2019 ’n vennoot van die GAPS Afrika-inisiatief, in noue samewerking met Statebondspele-verenigings en Nasionale Paralimpiese Komitees in Afrika. Hulle het onlangs ’n hernuwing van die memorandum van verstandhouding met die Statebondspele-federasie se GAPS Afrika-program onderteken om hierdie vennootskap vir nog tien jaar te verleng.
“Die US is trots om die universiteitvennoot van die Statebondspele-federasie se GAPS Afrika-program te wees. Ons is opgewonde om die verlenging van ons memorandum van verstandhouding te bevestig . Dit bevestig ons voortgesette samewerking sedert 2019, as die ankerlewering- en diensverskaffingvennoot,” het Ilhaam Groenewald, Hoofdirekteur Maties Sport, gesê.
“Maties Sport is geëerd om die 2025 GAPS Afrika-kamp aan te bied, en ons erken die belangrike rol wat ons speel om parasportontwikkeling in Afrika te bevorder. Ons glo daarin om atlete en afrigters te bemagtig deur opleiding, samewerking, toegang tot wêreldklasfasiliteite en dienslewering.”
In ’n ontroerende toespraak het Gideon Sam, visepresident van die Statebondspele-vereniging, klem gelê op die “ontwikkeling van diegene in ons sorg”.
“Dit help nie ons het mense wat aan die openingseremonie deelneem met al die glans, maar wanneer ’n mens na die prestasies kyk, is dit swak omdat niks gedoen word om hulle te ondersteun nie.”
Sam het gesê sleutelbelanghebbers in die Statebondspele het besluit om aandag aan die situasie te gee en met GAPS vorendag gekom.
“Dit belangrikste ding was om die oëverblindery te staak. Toe ons begin het om inligting in te samel, het dit duidelik geword dat as jy in die Afrika-konteks ’n gestremdheid het, moet jy weggesteek word. Ons mening is dat hierdie mense en hul suksesse in die kollig geplaas moet word.”
Sam het erkenning gegee aan die US se bydrae tot die program en bygevoeg dat Statebondsport die GAPS-program nie alleen sou kon bedryf nie.
Keagan van Aarde, hoëprestasie-sportbestuurder by die US, het gesê die GAPS-samewerking is ’n voorbeeld van hoe strategiese belyning en vennootskappe lewens kan verander.
“Dit is ’n groot eer om deel te wees van hierdie kamp en om die atlete en afrigters te help bemagtig deur kennis te deel.”
Van Aarde het gesê die GAPS-program – wat fokus op inklusiwiteit, om lewens te verander en om eenheid te bou oor die Statebond heen – stem ooreen met die visie van prof. Deresh Ramjugernath, die US se visekanselier, om die voorste universiteit in Afrika te wees. Volgens hom kan sport ’n medium vir sosiale verandering wees om dié doel te bereik.
Ellen Barwise, direkteur van Ontwikkeling en SSV-verhoudings, het gesê die GAPS-program het begin “omdat ons ’n droom gehad het om te verseker dat elke Statebond-land ’n atleet kon hê om in parasport aan ons spele deel te neem. Toe die program begin het, het net ongeveer 21 lande daaraan deelgeneem. Ons het gesê dat dit nie goed genoeg is as ons waarlik inklusief wil wees nie. Ons wil hê hierdie program moet ontwikkelende lande help om hul eie volhoubare stelsels te bou sodat hulle uiteindelik atlete by die Statebondspele en elders kan hê.”
Volgens Barwise is die eerste GAPS-kamp in 2022 by die US gehou, en het GAPS sedertdien vyf kampe op die kontinent aangebied.
“Uit daardie kampe het 33 atlete aan die Statebondspele in Birmingham deelgeneem en teruggekeer met nege medaljes en een wêreldrekord. By ons 2023 Jeugspele in Trinidad en Tobago was daar 12 GAPS-atlete, en het ons ses medaljes verower.
“Maar waarop ons die trotsste is, dat ons deur hierdie kampe ’n GAPS-familie bou wat, ongeag die land wat hulle verteenwoordig, diep omgee vir mekaar en mekaar aanmoedig.”
Ezera Tshabangu, streeksontwikkelingsbestuurder vir die Statebondsport in Afrika en Europa, het gesê: “As Statebondsport is ons die enigste internasionale multisportorganisasie wat inklusief is in terme van die speleprogram, waar ons para-atlete en afrigters insluit. Dit is dus belangrik dat al 74 Statebondspele-verenigings in die Statebond by die GAPS-kampe verteenwoordig word.”
Paralimpiese naelloper Charl du Toit, wat twee goue medaljes by die 2016 Paralimpiese Spele gewen het, het gesê daar kan nie genoeg klem gelê word op die belang van “behoorlike strukture” in atletiekprogramme nie.
“Ons het baie talent in Afrika, maar ons het nie altyd die strukture en mense in plek om daardie talent na die volgende vlak te neem nie. Dit is wat die GAPS-program doen – dit bied ’n struktuur waar atlete in hulself kan glo, saam kan oefen, en hulself as hoëprestasie-atlete kan sien.”
Toyin Ogunnefun, ’n kragoptelatleet van Nigerië, het gesê hy het baie by sy eerste GAPS-kamp geleer.“Naas opleiding in tegniese vaardighede, het ons lesings oor sportvoeding en teen die gebruik van verbode middels gehad. Ons is aangemoedig om na te dink oor ons lewe en die impak wat ons op ander het. Benewens my droom om ’n kampioen te word, kan ek, danksy hierdie kamp, nou ook ’n leier word wat help om mense met fisieke uitdagings in die kollig te plaas.”
Volgens Gift Chola, ’n kragoptelatleet van Zambië, het sy geleer hoe om op die bankie te lê, die staaf vas te hou en nie ’n swak optelpoging te hê nie. “Ek het die praatjies oor voeding en hoe om ons energie ’n hupstoot te gee, baie geniet,” het sy bygevoeg.
Ruth Chirwa, ’n kragoptelatleet van Malawi, het gesê die kamp het haar gehelp om met verskillende mense in verbinding te tree en meer selfvertroue in haarself en haar vermoëns te hê.
Karuli Petrus, ’n vyfkampatleet van Namibië, het gesê hy het nog nooit iets soos die GAPS-sportkamp ervaar nie. “Dit was ’n fantastiese ervaring om tyd saam met mede-atlete deur te bring en ons ervarings te vergelyk. Ek voel ek het lewenslange vriende gemaak.”
Elisabeth Barry, ’n kragoptelafrigter van Gqeberha, het die kamp as ’n ongelooflik leerervaring vir atlete én afrigters beskryf.
“Dit was fantasties om tussen ander kragoptelafrigters te wees. Ons word in ons onderskeie lande deur soortgelyke uitdagings in die gesig gestaar, soos befondsing vir ons atlete, toegang tot gimnasiums, vervoer, kompetisiekoste en die verkryging van gepaste toerusting. Ons het baie besprekings gehad en baie by mekaar geleer. Dit was ook wonderlik om te sien hoe die atlete bande vorm, by mekaar leer, en groei te danke aan die ervaring van die kamp.”
Keagan van Aarde het die memorandum van verstandhouding se hernuwing vir tien jaar verwelkom, en dit beskryf as ’n geleentheid vir die US en Maties om hul verbintenis tot die GAPS-agenda te wys.
Die US en Maties Sport is al lankal nasionale leiers in inklusiewe sportontwikkeling. Hulle is perfek geposisioneer om hul wêreldklasfasiliteite, mediesewetenskapinfrastruktuur, en omvattende kundigheid oor die ontwikkeling van atlete en afrigters te gebruik om kapasiteit te bou en opleiding en onderrig te verskaf wat parasport waarlik sal transformeer.
Nie net sal die voortgesette memorandum van verstandhouding volhoubaarheid vir parasportontwikkeling bied nie, maar dit sal ook ’n globale voorbeeld stel in terme van internasionale samewerking, navorsing en impak.
Deur Sue Segar