Nathaly koester Maties Basketbal se ‘slim vroue’

“Geen spyt, net lesse” is Nathaly September se motto as afrigter van Maties Vroue-basketbal, as vrou en as ma.

“Dit kan moeilik wees om huis- en gesinslewe te balanseer met professionele sport, maar met die regte ondersteuning is dit moontlik én lonend,” sê Nathaly, wie se man ook “in die bedryf” is as ’n bofbal-afrigter. “Jy moet elke dag alles gee, die moeite insit en dit laat gebeur.”

As kind was sy ’n self erkende rabbedoe en om verskeie redes eerder basketbal as netbal gespeel. “Die netbalrompies was te kort vir my, maar ek het ook daarvan gehou dat basketbal jou meer vryheid as speler gee en dit was fisiek. Amper soos kontaksport. Ek het een keer ses steke gekry!”

Basketbal is inderdaad diep gewortel in baie stedelike kulture, wat op sy beurt ’n hele mode-, musiek- en rolprentindustrie geïnspireer het. En dit het nou in sy eie reg ’n plek hier in Stellenbosch gevind. “Ons het in 2021 in die nasionale C-afdeling begin, in 2022 na die B-afdeling bevorder en in 2024 ons plek in die A-afdeling los gespeel. Hierdie jaar was ons doelwit om in die top 5 te eindig – en ons het derde gekom.”

Nathaly het op 14-jarige ouderdom begin speel en tot sy 24 was op nasionale vlak meegeding. Daarna het sy oorgeskakel na afrigting – eers op skoolvlak, toe streek- en provinsiale spanne wat verskeie titels gewen het. Sy was reeds in haar speeldae in verskeie lande in aksie, en toe sy met afrigting begin, het sy na Amerika gereis om te gaan “kyk en leer”.

Sy het al dié ondervinding saamgebring toe sy in 2021 by Maties aangesluit het, waar haar ferm afrigtingstyl gebalanseer word met ’n koesterende benadering. “Ek bring ervaring as speler, as afrigter en as vrou. My uitdaging is om elke speler tot ’n hoër standaard te lig terwyl ek hulle as individuele help groei en ondersteun, en terselfdertyd erken dat hul akademie altyd eerste kom. Gelukkig het ons ’n klomp slim spelers,” sê sy.

Nathaly is passievol daaroor om jong kinders weg te kry van ’n virtuele leefwêreld op elektroniese toestelle en te verseker hulle speel weer in die regte wêreld. “Ek is ook ’n afrigter vir leerders van Graad R tot Graad 7 omdat ek glo fisieke aktiwiteit stimuleer nie net verstandelike vermoë nie, maar sport berei jou ook voor vir die lewe – dit wys jou hoe om persoonlike uitdagings te oorkom, en help jou om jou plek en waarde in ’n span en in die samelewing te vind.”

Maties Vroue-basketbal se kreet is “1,2,3 Maties; 4,5,6 Familie.” Ons kan dus verseker wees dat Nathaly ’n veilige ruimte skep vir jong vroue om te floreer – en dat sy ’n diep impak op haar jong leerders gaan hê.