Vroue-rugbyspelers kan taai wees – met geverfde naels

Net soos manrugbyspelers aggressief op die veld en heel ordentlik weg van die speelveld is, kan vroue-rugbyspelers vir 80 minute robuus wees en dan daarna hul naels laat doen, sê Maties Rugby se vroue-span se hoofafrigter, Aneesah Adams.

“Mense moet ophou om vroue-rugby – en vroue in kontaksport in die algemeen – te stereotipeer,” sê Aneesah, wat die Maties Vroue-rugbyspan vanjaar na hul tweede Varsitybeker-sege in drie jaar gelei het.

“Mans klou steeds vas aan die eienaarskap van rugby. Dit is hartseer, want ons is nie hier om oor te neem of die spel te verander nie. Ons is eenvoudig besig om ’n veilige ruimte te skep waar vroue ’n sport wat ons liefhet op die hoogste vlak kan beoefen, met dieselfde erkenning van beheerliggame, borge en ondersteuners,” sê die ma van twee, met ’n graad in Sportwetenskap, sowel as Medic-vlak 1 en Afrigting-vlak 1 akkreditasie.

“Ons speel dieselfde spel,” sê sy, “maar eintlik is ons taaier as wat mense dink, juis oor ons genetiese verskille. Buiten vir grootte, het ons iets soos ‘siklusse’ wat chaos in ons liggame en koppe veroorsaak – en tog moet ons opdaag, oefen, harder druk deur die krampe en speel om te wen – en dit is wat ons doen!”

Aneesah was betower deur rugby toe sy as agtjarige die Springbokke op Nuweland sien speel het. “Ek wou op laerskool speel, maar daar was nie meisiespanne nie, so ek het saam met die seuns gespeel. In hoërskool by Paarl Vallei kon ek uiteindelik raak-rugby speel.”

Haar afrigtingspad het onder andere ’n tyd as hulp-afrigter van ’n mansewespan ingesluit, maar deesdae is haar fokus en passie om ons opkomende vroue-rugbytalent te ontwikkel. “Dit is kompleks. Die hormonale siklusse moet bestuur word – nie omdat vroue emosioneel onstabiel is nie, maar omdat navorsing van Wêreld Rugby wys dat vroue tydens sekere tye van hul siklus veral kwesbaar is vir ligamentbeserings aan enkels en knieë. Dit is my werk om hulle fisiek en emosioneel sterk genoeg te kry om elke wedstryd vyf of ses kilometer te kan hardloop, die houe te vat, en veilig te bly.”

Daar is gesê rugby is een van die mees inklusiewe sportsoorte wat gemeenskappe en nasies bou. Aneesah stem saam. “Dit is veral duidelik in vrouerugby. Daar is plek vir alle liggaamsvorms en -groottes, want rugby gaan nie meer net oor brute krag nie. Dit maak nie saak of jy 50 of 90 kg weeg nie. Dit maak nie saak of jy baie vroulik is of nie. Solank jy die passie het om te speel, die harde werk insit en gemotiveerd is om saam met die span te wen, hoekom sal jy nie ná ’n wedstryd jou naels laat doen en grimering aansit nie?”

Vir Aneesah is selftrots die sleutel tot om die lewe as vrou te vier. “Soveel vroue sukkel met hul selfbeeld en voer ’n voortdurende geestelike stryd om in hulself te glo. Ek vier my veerkragtigheid en elke geleentheid om myself te verbeter – vir myself,” sê sy.

“En wanneer my selfvertroue getoets word, gebruik ek die Reël van Vyf: as iets gebeur maar dit maak nie oor vyf minute, vyf weke of vyf maande saak nie, dan gaan ek aan – altyd besig om te leer en te groei.”