Maties kan Kovsies aanhou wen

Deur Maties Sport Media en Kommunikasie-eenheid 

 

Maties het in die reeks van tweede ronde wedstryde in die 2022 Varsity-netbaltoernooi teen die Universiteit van die Vrystaat (Kovsies) in die Universiteit van Pretoria se Rembrandt-saal te staan gekom. 

In ’n herhaling van die 2021 eindstryd het Maties dié slag Kovsies met 57-53 in ’n spannende wedstryd geklop. Maties het die sege oor die verdedigende kampioen in die doodsnikke van die wedstryd beklink. Met die oorwinning het Maties hul onoorwonne rekord gehandhaaf en hul plek aan die bokant van die puntestand bevestig. 

 

Wedstrydbesonderhede 

Maties het vroeg reeds die pas aangegee, met spel van ’n hoë standaard en aan die einde van die eerste kwart was die telling 15-9 in Maties se guns. Die Maroenmasjien het in die tweede kwart sy voorsprong tot sewe doele gerek. Kovsies het nie van hul kanse gebruik gemaak nie.  

Die Vrystaters het egter teruggeveg in die derde kwart en vir ’n kort tyd was die tellings gelyk. In die laaste minute van die derde kwart het Maties egter weer beheer geneem en met die laaste 15 minute oor was Maties met 39-35 voor. 

In die laaste kwart het Kovsies hul kragspel met groot effek gebruik toe hulle die gaping tot net een doel laat krimp het met vier minute se speeltyd oor. Sian Moore en haar spelers het egter vasgebyt en in die laaste minute die sege met 57-53 verseker.  

 

Uiteensetting van wedstryd-statistieke 

Kwart-tellings:

EERSTE KWART: Maties 15-9 Kovsies;

TWEEDE KWART: Maties 28-21 Kovsies;

DERDE KWART: Maties 39-35 Kovsies;

EINDTELLING: Maties 57-53 Kovsies. 

Doele persentasie: Maties 80%, Kovsies 75% 

Balle onderskep: Kovsies 7, Maties 4 

Strafdoele: Kovsies 61, Maties 56