Maties oorheers in Varsity Netbal-openingswedstryd

Deur Maties Sport Media en Kommunikasie-eenheid 

 

Die Maties-netbalspan het die teleurstelling van sy nederlaag in die 2021 Varsity-netbaleindstryd in die verlede gelaat met ’n oortuigende sege in die openingswedstryd van die 2022 toernooi.  

Die Maroenmasjien het die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) met 86-21 ore aangesit. Wedstryde is in die Universiteit van Pretoria se Rembrandt-saal gespeel. Dié telling is een van die grootste seges in die geskiedenis van die toernooi. 

Maties se kaptein, Sian Moore, is as die speler van die wedstryd aangewys. Sy was dodelik akkuraat in die doelsirkel. 

“Vyf van ons spelers het in die wedstryd hul debuut in die Varsity-netbaltoernooi gemaak. Dit is lekker om sulke diepte te hê. Elke speler het gedoen wat sy moes en ek is ’n trotse kaptein,” het Moore gesê. 

 

Verloop van wedstryd  

Maties het sterk begin en aan die einde van die eerste kwart met 16-8 voorgeloop. TUT het net-net binne trefafstand gebly. 

Die USSA-kampioen het egter na die volgende rat oorgeskakel in die tweede kwart en met halftyd was die telling 39-15 in Maties se guns. Die Protea-verdediger Nicola Smith het kookwater-spel opgedis en TUT se doele geen kans gegee nie. 

Maties het in die derde kwart voortgestorm en met 15 minute oor was dit reeds 65-20 in Moore-hulle se guns. Die Maroenmasjien het die telbord aan die rol gehou, maar TUT se doele het nie juis geleenthede gekry nie. Die Maties se verdediging van rotsvas.  

 

Wedstrydstatistiek  

Kwart-tellings: EERSTE KWART: Maties 16-8 TUT;

TWEEDE KWART: Maties 39-15 TUT;

DERDE KWART: Maties 65-20 TUT;

EINDTELLING: Maties 86-21 TUT. 

Doele persentasie: Maties 95%, TUT 61% 

Balle onderskep: Maties 20, TUT 3 

Strafdoele: Maties 56, TUT 43