As Maties Rugby-haker het Chris Norton 12 jaar lank, van 1991 tot 2003, sy beste vir die klub gegee, en hy doen dit steeds as ’n dryfkrag in Maties Rugby se Ondersteunersklub. Maar sy grootste nalatenskap sal dalk sy seun Riley wees, wat in hierdie 150e vieringsjaar by die Varsitybeker-oefengroep ingesluit is.
Chris het in 1991 direk ná skool Stellenbosch toe gekom om ’n Matie te word en is steeds hier, in die dorp en betrokke by die klub wat so na aan sy hart lê soos sy gesin: sy vrou, Andrea, en sy drie seuns Tim, Kei en Riley.
Sy jongste seun, Riley, het op 18 al ’n indrukwekkende CV. Hy was Paul Roos Gimnasium se hoofseun en het provinsiale kleure in rugby én krieket verwerf. Hy het ook aan die o.19 Krieketwêreldbeker-toernooi deelgeneem. Vanjaar is hy ’n eerstejaarstudent wat BCom Beleggingsbestuur gaan studeer en ’n nuweling in die Maties FNB Varsitybeker-oefengroep.
Maties Rugby het met pa en seun gesels:
Wat het jou na Maties Rugby en Stellenbosch gebring?
Chris: Ek kom van Mkanda (Grahamstad) af en het as ’n St Andrews-speler in 1990 teen Bishops in Kaapstad kom speel. Ek het ’n intervarsity-wedstryd tussen Maties en die Universiteit Kaapstad by Nuweland gaan kyk en het daar en dan besluit dat ek by Maties wil aansluit.
Ek het direk na skool gekom … ’n groot kultuurskok vir ’n rou Engelsman in Matieland! Ons kon destyds in Engels antwoord, maar die vrae was in Afrikaans, wat nogal ’n uitdaging was. Nodeloos om te sê, is ek nou heeltemal tweetalig!
Riley: Ek is hier gebore, was in Paul Roos Gimnasium, en het te danke aan my pa en my gesin grootgeword met Maties Rugby as deel van my lewe. Stellenbosch was my enigste universiteitskeuse, en Maties Rugby my doelwit.
Wat beteken dit om as ’n Matie te speel?
Riley: Ek is so dankbaar om deel van die Varsitybeker-groep te wees. Ek sal hard werk en hopelik my pa se nalatenskap voortsit. Daardie maroentrui beteken baie.
Chris: Toe ek hier aangekom het, het ek nooit gedink dat ek 13 jaar lank vir Maties sou uitdraf en vir die 1e span sou speel nie. Een van die beste dae van my lewe was om saam met Springbok-legendes soos Breyton Paulse, Stuart Abbott, Neil de Kock, Gio Aplon en Schalk Burger te speel.
Ek het nie eers Cravenweek gespeel nie, maar was ’n bewys dat ’n mens suksesvol kan wees as jy die regte houding het, die etos en waardes toepas, en moed en harde, harde werk aan die dag lê.
Ek het haker gespeel – ek is ’n bietjie korter as Riley! Omdat Maties ’n oop klub was, kon ek aanbly ná ek my BA Hons-graad (in Geskiedenis en Xhosa) verwerf het. Ek het uiteindelik in 2003 in die ouderdom van 28 as speler uitgetree, maar ek het in ander hoedanighede betrokke gebly.
Riley, jy moes kies tussen krieket en rugby. Hoe het jy rugby gekies?
Riley: Dit was moeilik, want krieket het baie vir my beteken en het my baie geleer. My pa het vir my gesê ek moet doen waarvoor ek lief is, en in matriek het ek besef dat ek ’n bietjie meer van rugby hou … die onoortreflike kameraderie, die inspirasie van die Springbokke, en Maties Rugby!
Chris: Hy sou my volle ondersteuning gehad het ongeag wat hy gekies het. Dit is hartseer dat ek hom nie weer sal sien boul of kolf nie, maar ek is baie in my skik dat hy rugby gekies het en dat die gesin se Maties Rugby-tradisie sal voortleef.
Watter impak het rugby op jou lewe gehad en hoe dit jou gevorm?
Chris: Ek het die wêreld deur rugby gesien en beleef – Argentinië, Japan, Engeland. Ek het ongelooflike mense ontmoet, was blootgestel aan verskillende kulture, en het oor 30 jaar lewenslange vriende gemaak. Ongelooflike herinneringe – soos om by Twickenham voor 75 000 toeskouers vir Oxford teen Cambridge te speel, en in 2000 die klubkampioenskap teen RAU te wen…
Dit het my selfdissipline, spanwerk, ware deursettingsvermoë om tot die einde te veg, en inklusiwiteit geleer. Rugby gaan nie net daaroor om groot en sterk te wees nie; daar is ’n plek vir almal, veral deesdae met meer strategie en minder brute krag.
Dit is die enigste volkontak-spansport waar mense 80 minute lank hardhandig met mekaar is en dan daarna saam oor ’n bier kuier – kosbaar!
Riley: Dit rus ’n mens toe met die vaardighede en gewoontes om ook weg van die veld suksesvol te wees: verbintenis tot ’n doelwit, werketiek, moed. Dit leer jou ook om buite jou eie borrel te leef. Daar is so baie diversiteit in rugby wat byeenkom vir ’n gesamentlike doelwit. Niks verenig mense soos sport nie, veral rugby. Ek verwelkom vrouerugby. Hulle berei net so hard voor soos mans en ek hoop hulle sal meer blootstelling kry.
Hoe het universiteitsrugby oor die afgelope 10 jaar verander?
Chris: Die eise wat aan studente-atlete gestel word, is woes. Daar is so veel meer betrokke soos studenterugby na meer professionele hoëprestasiestandaarde beweeg. Ons het minder wedstryde en kompetisies gehad, maar deesdae is dit ’n jaarlange seisoen as jy die voorbereiding en al die ekstras insluit. Die kondisionering is egter goed om lang loopbane te verseker. In my dae het ons sommer kop eerste by die skrum ingeduik … en dikwels die prys betaal.
Riley: Ek moes op skool altyd ’n balans tussen sport en akademie – en tyd om te ontspan – vind. Dit is heel normaal vir my. Ek het ook ’n ongelooflike ondersteuningstelsel, by Maties én by die huis. My broers is my grootste ondersteuners. Jy moet net baie georganiseerd wees. Ek voel dis ’n groot eer om vir ’n hoëprestasiespan te speel, en dit motiveer my nog meer.
Wie is jou persoonlike rugbyheld?
Riley: Pieter-Steph du Toit. Hy was al twee keer die wêreldspeler van die jaar en hy gee deurlopend 110%. Sy pa het ’n sening geskenk sodat hy kon aanhou speel. Dis baie inspirerend.
Chris: Ek kan jou nie daarmee help nie, Riley! Ek het nie meer senings nie. My rugbyhelde is my seuns. Eers Tim en Kei, en toe Riley.
Wie is die beter rugbyspeler?
Chris: Beslis ek! Maar op ’n ernstiger noot, Riley laat my soos ’n beginner lyk. Ek het nie ’n ons van sy talent nie.
Riley: Maar hy is die baas by die huis!


