Nog USSA-titels vir Maties

Maties Sport het die jaar met ’n suksesvolle Universiteit Sport van Suid-Afrika (USSA) veldtog afgesluit en titels in verskeie sportkodes verower.

Die Maroen-masjien het goud in Afdeling A van vroue- en manswaterpolo, skaak, vrouegolf, asook goud vir manssokker in die Afdeling B gewen. Terwyl hulle ook brons verwerf het vir tafeltennis en gholf. Daarbenewens het van die student-atlete verskeie indrukwekkende individuele toekennings ontvang.

Waterpolo

Maties Waterpolo het vir die vierde agtereenvolgende jaar die USSA-titel vir mans én vroue verower. Na ’n opwindende en mededingende toernooi oor drie dae, is albei spanne met goue medaljes beloon.

Maties se vrouespan het in die groepfase van die toernooi teen UP-Tuks verloor, maar sake reggestel met ’n sege in die eindstryd oor die span van Pretoria. Maties was met 7-4 baas in ’n spanningsvolle wedstryd. In die manseindstryd was dit ’n Kaapse derby teen die Universiteit van Kaapstad. Maties het hul onoorwonne status behou en die kragmeting met 14-12 gewen.

Sokker

Maties se sokkerspan vir mans was oorwonne met die verloop van die toernooi en het USSA se Afdeling B gewen. Die span se harde werk en toewyding in die opbou tot die toernooi is beloon ondanks uitdagende omstandighede tydens hul voorbereiding vir die toernooi. Maties het teen DUT in die eindstryd gespeel. Dit was ’n titaniese stryd wat Maties met 2-0 gewen het. Met dié oorwinning is hulle na Afdeling A bevorder.

Daar was verskeie individuele toekennings na die suksesvolle veldtog.

Afrigter van die Toernooi: Desmond Crowie

Speler van die Toernooi: Waasim Holtman

Span van die Toernooi: Maties

Doelwagter van die Toernooi: Slade Jewell

“Na verlede jaar se teleurstelling het ons as ’n tegniese span gaan sit en ’n plan geformuleer om ons te kry waar ons wil wees. Dit was ’n lang reis, maar meeste van hierdie spelers speel ook in die ABC Motsepe-liga wat ons baie gehelp het. Daarom het ons deur die toernooi gegaan sonder om ’n doel af te staan, en twee of drie doele per wedstryd aangeteken. Dit op sigself wys ons dat die program waarmee ons besig is by Maties sokker vrugte afwerp,” het Crowie gesê.

“Sowat 90% van hierdie seuns sal volgende jaar saam met ons in Afdeling A speel. Ons verloor net een speler en ons het twee of drie baie goeie spelers gewerf. Ek dink ons span kan net sterker en sterker word veral met die ondersteuning van Maties Sport en die sokkerprogram. Ek wil Ellroy Smith, wat sedert ek in 2017 aangesluit het, die klubbestuurder is, bedank. Hy is altyd daar en het ons gekry waar ons wil wees. Van topbestuur tot by die uitrustingsman, ons het die nodige ondersteuning gehad en daarvoor is ek dankbaar.”

Die vroue-span het ’n veldtog met gemengde welslae gehad. Maties het teen die Universiteit van die Vrystaat vir die negende plek uitgespeel. Die Vrystaters was baas met 2-1 en Maties het algeheel 10de in Afdeling A geëindig.

Krieket

Maties Krieket se toernooi was in Kaapstad. Die span het ’n belowende begin tot die toernooi gemaak met ’n sege oor bure UWK. Nederlae teen UP-Tuks en Wits het egter gevolg. In die eerste uitspeelwedstryd het Lehan Botha sy span tot ’n sege oor Madibaz gelei. Maties het die wedstryd met 195 gewen danksy Botha se driekuns – boulontleding van 6/23 – én 73 lopies. In die uitspeelstryd vir die vyfde plek het Botha-hulle wéér teen UWK te staan gekom. Dit was ’n spannende wedstryd. Maties het uiteindelik met 25 lopies gewen. Ryan Jairaj het ’n boulontleding van 2/24 gehad.

“Dit was ’n moeilike week vir die spelers. Ons is bly om op ’n hoë noot klaar te maak met ons sege oor UWK en ons sal weer begin beplan vir die nuwe jaar. Ons is baie trots op ons nuwelinge. Hulle het goeie vordering die afgelope week gemaak. Dit was veral Ryan Jairaj en George van Heerden wat goed by die span ingeskakel het,” het Keagan van Aarde, spanbestuurder, gesê.

Lehan Botha, Maahir Joseph en George van Heerden is in die toernooi se USSA-span ingesluit. Eerstejaarstudent Maahir Joseph was die toernooi se voorste kolwer en is as Speler van die Toernooi aangewys.

Tennis

Maties het vir die bronsmedalje meegeding ná nederlae teen Tuks en Kovsies. Daar was seges teen Rhodes en NWU-Mahikeng voor Maties teen die Vrystaters in die halfeindronde vasgeval het. Tuks het die uitspeelstryd om die derde plek gewen.  Maties het in die vierde plek geëindig.

Skaak

Aksie het in Durban plaasgevind. Nico Martin het die mansafdeling gewen en sy spanmaat Simamnkele Hemeni was vierde. In die vroue-afdeling was Anika du Plessis baas nadat sy met haar spanmaat Thembisele Makhubu afgereken het. Dit was ’n week van uitsonderlike vertonings deur Martin en Du Plessis. Hulle het Maties se naam hoog gehou.

Gholf

Hoewel gholf ’n individuele sport is, het die Maties-span saamgespan en vir  uitsonderlike vertonings in Makhanda gesorg.

Crystal Beukes was die algehele wenner in die vroue-afdeling, en haar spanmaat Anita Chen was tweede. Dit was die heel eerste keer dat Maties se gholf-vroue op die wennerspodium gestaan het. Voorwaar ’n trotse oomblik vir Maties Sport.

In die spankompetisie was Maties derde in die mansafdeling. Dit was ’n fantastiese week vir Maties Gholf.

Tafeltennis

Maties het die derde plek in die spankompetisie behaal. Le Roux Strydom, Christian Louw en Dewald Swanevelder het Maties verteenwoordig in die toernooi. In beide die enkel- en dubbelspel is Maties se mans en vroue reeds in die kwarteindronde uitgeskakel.

Seilvaart

Dit was ’n epiese week vir die Maties-seiljagvaarders. Hulle was onoorwonne tot in die finale wedvaart. Die Universiteit van Kaapstad se span het dié wedvaart gewen en Maties het die silwermedalje terug Matieland toe gebring.

Maties het agt uit agt wedvaarte gewen en in die halfeindronde teen Rhodes was hulle in twee van die drie kragmetings baas. In die eindstryd was UK met 5-3 die oorwinnaars.

Deur Kimara Singh