Sylvester slaan nuwe rigting in met rugby

Sy kan nie ’n tyd onthou wat sy nie aan sport – enige sport – deelgeneem het nie. Elitha Sylvester, wat ’n Baccalaureus in Onderwys aan die Stellenbosch Universiteit het, het sedert die ouderdom van sewe in atletiek, gimnastiek, swem, landloop en netbal uitgeblink.

Die sportiewe agtergrond ten spyt het sy nooit verwag om Suid-Afrika in ’n internasionale rugbytoernooi te verteenwoordig nie. Veral nie nadat sy net ’n jaar terug begin het om dié sport te beoefen nie. Sy het haar land in die Uitnodigingstoernooi van die Wêreldreeks vir sewesrugby in Dubai verteenwoordig.

Dit was eers aan die einde van 2022 dat Sylvester besluit het om haar hardloopskoene op te hang omdat sy gevoel het sy het juis vordering in atletiek gemaak het nie. Na ’n paar weke van onsekerheid het die Maties se afrigter vir vroue rugby, Johann Zeier, haar genader om by die span aan te sluit.

“Elitha het met ’n multisport-agtergrond by ons aangesluit. Dit het beslis ’n rol gespeel in hoe maklik sy aangepas en ingepas het. Sy het ’n natuurlike talent en dit is maklik om haar af te rig, want sy is bereid om te leer. Dit het beslis haar ontwikkeling versnel,” sê Zeier.

Dit het nie lank gevat vir Sylvester om haar voete op die rugbyveld te vind nie. Sy was deel van Maties se Varsitybeker-span wat die eerste toernooi gewen het. Sy het ook haar debuut vir die Westelike Provinsie gemaak. So het sy in haar pa se voetspore gevolg wat ook provinsiale rugby op sy dag gespeel het. Sylvester se hoogtepunt was egter om vir die SA akademie-span in Dubai te speel.

Sy beskryf haar eerste internasionale rugbytoernooi as ’n fantastiese ervaring en verduidelik dat om rugbyspelers wat sy net op televisie gesien het te ontmoet, ’n “onvergeetlike oomblik” was. Sy kon weens harsingskudding egter nie die toernooi voltooi nie. “Maar ek kon steeds my spanmaats van die kantlyn ondersteun.”

Zeier het hoë verwagtinge vir Sylvester se belowende rugbyloopbaan.

“Sy het baie vinnig ’n sleutelspeler in meer as een span geword. Elitha het baie potensiaal, en ons is almal opgewonde om te sien hoe ver sy haar rugby kan neem. Ons hoop om binnekort te sien hoe Elitha haar debuut vir die Springbokke maak!”

Nuwe uitdagings roep. Sylvester vertrek hierdie maand na Hongkong om onderwys te gee én vir ’n plaaslike rugbyklub, HKU Sandy Bay RFC, te speel. Sy erken dat sy nie geweet het wat om na skool te studeer nie. Selfs nie eens toe sy klaar was met haar eindeksamen nie. Haar ma het egter die perfekte advies gehad toe sy Sylvester oortuig het dat “jy nooit verkeerd kan gaan met onderwys”.

Sy het haar studies benader met dieselfde fokus en toewyding wat haar gehelp het om as atleet uit te blink. “Sport het vir my waardevolle lesse oor dissipline, spanwerk en volharding geleer. Ek het dit alles in my studies toegepas. In die lewe help hierdie lesse my om uitdagings met vasberadenheid en ’n positiewe ingesteldheid te navigeer.”