Niemand Maties Netbal se nuwe hoofafrigter

Die jaar het met groot opgewondenheid en hartseer begin, met die bedanking van Maties Netbal se jarelange hoofafrigter Zanele Mdodana.

Mdodana was vir sewe jaar (2016-2023) die vuur agter Maties se netbalspan. Die hoogtepunt van haar tyd by Maties was die span se eerste Varsity Netbal-titel in 2022. Dié jaar het ook die USSA-titel ingesluit. Dit was een van die mees suksesvolle seisoene ooit vir die Maties-netbalklub. Mdodana en haar span het hul USSA-titel in 2023 suksesvol verdedig. In haar tyd by Maties het die klub ook twee nasionale spelers in Nichole Taljaard en Nicola Smith opgelewer. Die duo het Suid-Afrika by die Wêreldbeker-netbaltoernooi in Kaapstad verteenwoordig.

Mdodana se voormalige hulp-afrigter Adele Niemand-Zeelie is as Maties se nuwe hoofafrigter aangewys. Sy was deel van die afrigtingspan wat die dubbele goud in 2022 verower het.

Niemand-Zeelie is ’n voormalige Protea-verdediger. Sy het ook al aan verskeie Ysterman-byeenkomste deelgeneem en is tans ook ’n motiveringspreker.

“Ek is verheug om terug te wees by Maties in ’n afrigtingskapasiteit. Ek het deur die jare saam met die meeste van die spelers gewerk en glo hulle het die vaardighede en talent om groot dinge te bereik. Zanele het ’n stewige fondament met die span gebou en ek sal voortgaan om ’n duidelike speelstyl met nuwe en huidige spelers te ontwikkel. My benadering tot afrigting is gebaseer op ’n holistiese ontwikkeling van spelers, waardeur ek alle aspekte van die spel op sowel as van die baan af aanspreek. Alles in ag genome, sien baie uit na die uitdaging,” het Niemand-Zeelie gesê.

Die nuut aangestelde hoofafrigter sal deur ’n bestuurspan ondersteun word. Dié span sluit in Sasha-Lee Petersen (hulp-afrigter/Maties 2-afrigter), Jo Prins (Maties Junior-afrigter), Theo Tafeni (Maties Mansafrigter), Havillan Abrahams (kondisioneringsafrigter) en Neda Isaacs (fisioterapeut).

“Zanele was ’n groot deel van die sukses van Maties Netbal. Sy het ’n wenkultuur by ons spelers gekweek het. Ons wil net baie dankie sê vir die sewe jaar se toewyding aan Maties Netbal en Maties Sport. Alhoewel, ons afskeid van Zanele neem, sien ek daarna uit om ’n bekende gesig terug te verwelkom in ons bestuurstruktuur in Adele. Sy het die volle steun en ondersteuning van Maties Netbal, ons ken haar vermoëns as ’n dinamiese afrigter en ons sien daarna uit om hierdie nuwe reis saam met haar te begin,” het Sportbestuurder vir Maties Netbal, Charlé Swart gesê.

Deur Kimara Singh