Floors sien uit na sy eerste Varsitybeker-toernooi as hoofafrigter

Met die FNB Varsitybeker-rugbytoernooi om die draai, het Maties Sport met Maties Rugby se Hoofafrigter Kabamba Floors gaan sit om te gesels oor sy verwagtinge vir die toernooi.

Nadat Floors in Julie verlede jaar as hoofafrigter oorgeneem het, het hy ’n suksesvolle tweede helfte van die 2023-seisoen gehad. Maties se eerste rugbyspan het die USSA-titel verower en was baas in die Westelike Provinsie Superliga A. Hy hoop om die segetog in vanjaar se Varsitybeker-veldtog voort te sit.

Die Maroen Masjien het die jaar met ’n kamp in Elsenburg begin. “Ek dink die kamp het baie goed gegaan. Dis die eerste keer wat ons hier bymekaar gekom het, vorige kampe is in Hermanus of George aangebied. As bestuur het ons besluit om eerder in Stellenbosch te bly vanjaar en in uiterse toestande te oefen,” verduidelik Floors.

Floors het die fokusareas vir die span tydens die kamp afgebreek. Volgens hom is dit belangrik dat dié aspekte aangespreek word voor die toernooi afskop.

Fokusareas vir spelers het die belangrikheid van spanwaardes en -kultuur ingesluit asook die belangrikheid om tyd met mekaar te spandeer en elke spanmaat so goed as moontlik te leer ken.

Fokusareas vir die bestuur was om mekaar se sterk- en swakpunte te erken, om mekaar te ondersteun en om altyd met respek om te tree maak nie saak hoe groot die druk is nie.

Floors en sy bestuurspan het baie harde werk ingesit met aanloop tot die Varsitybeker-toernooi, wat Maties laas in 2019 gewen het.

“Soos altyd gaan die Varsitybeker-toernooi baie uitdagend wees. Ons het verlede jaar vasgeval in die halfeindronde. Ek dink die span bevind homself in ’n onbekende ruimte. Ons sal ’n beter aanduiding hê van die stand sake as ons eers wedstryd-tyd agter die rug het. Ons probeer verskillende strukture en stelsels en sal sien wat werk met verloop van tyd.

“Met minder as ’n maand oor, speel ons die verdedigende kampioen, NWU in die Danie Craven. Ons kan net ons huiswerk doen en na die beste van ons vermoë voorberei. Ons het weet ons uit die wedstryd wil hê. Ons doen ons voorbereiding daarvolgens,” het Floors bygevoeg.

As deel van die voorbereiding vir die Varsitybeker-toernooi, sal Maties drie opwarmingswedstryde speel. Floors-hulle sal dié wedstryde as geleentheid gebruik om die verskillende stelsels en strategieë te toets voor die kragmeting teen die span van Potchefstroom.

“Ons het die seisoen in blokke van drie wedstryde opgedeel. Ons moet goed vaar in die eerste drie wedstryde om goed te kan vaar in die kompetisie. En daardie drie weke het ons ook in drie blokke gedeel, want in dié toernooi is daar nie maklike wedstryde nie en elkeen is belangrik.”

Maties se eerste wedstryd is teen NWU-Arende en dan volg ontmoetings met Universiteit van Kaapstad, en Wits. Die Maties groep het diepte wat baie belangrik is vir ’n lang toernooi soos die Varsitybeker. Volgens Floors is daar verskeie spelers wat veelsydig is en in verskeie posisies kan diens doen. Daar is ook heelwat ervaring in die groep en dit sal baie beteken vir die nuwelinge.

Floors was voorheen die hoofafrigter van die Maties Young Guns (o.20) en was vir twee seisoene hulp-afrigter van Maties se seniorspan. Hy is dus nie ’n vreemdeling nie vir die uitdagings wat die toernooi aan spelers en afrigter stel.

“Dit is wel onbekende terrein vir my as hoofafrigter, maar ek voel gemaklik in die posisie en ken my bestuurspan. Die Varsitybeker-kompetisie het uitsonderlike druk wat daarmee gepaard gaan om die hoofafrigter te wees. Dit verskil heeltemal van die rol as jy net die hulp is. Ongeag al die uitdagings, sien ek ongelooflik uit na die begin van die jaar en die nuwe seisoen,” het Floors gesê.

Floors het studente van die Universiteit Stellenbosch aangemoedig om agter die span te skaar. “Ons [Maties Rugby] presteer altyd goed as dit ’n vol Danie Craven is, veral as die studente in hul getalle kom ondersteun. Dit sal baie vir die span beteken om konstante ondersteuning te kry by die huis hierdie seisoen.”

Deur Kimara Singh