Ons is trots op David

Maties Alumni spog op internasionale sport verhoog

Enige held wat sy sout werd is, moet eers ’n merkbare terugslag oorkom in sy stryd om aan die einde as oorwinnaar te staan. In die storie van beroepsport kry die held nie altyd wat hy verdien of waarvoor hy gewerk het nie.

Maties Sport Alumni David Bedingham en David Brits het albei eers hul Goliats baasgeraak voor hulle die soet smaak van sport op die internasionale verhoog ervaar het.

Bedingham nog altyd bestem vir hoë louere

David Bedingham het na Maties Krieket gekom as skole-krieket wonderkind en die verwagtinge vir en van hom was hoog. Desember 2016 was Bedders – soos hy onder sy spanmaats bekend staan – in ’n gruwelik-ongeluk. Hy het sy kakebeen en femur gebreek. In dié tyd het Bedingham tot die besef gekom dat krieket net ’n sport is, en hy dit moet speel vir die genot daarvan.

Bedingham was vir meer as ’n jaar op die kantlyn en selfs toe hy weer begin speel het, was hy steeds effens mank. Hy het Januarie 2018 sy terugkeer tot die krieketveld gemaak. Ses jaar later het Bedingham sy droom verwesenlik om vir sy land te speel. Sy Protea-debuut was in Desember 2023 op Centurion teen Indië. Sy tweede toets was op Nuweland voor sy familie en vriende. Hy het nog net vier toetse gespeel, maar het homself reeds bewys as ’n speler wat nog baie lopies vir Suid-Afrika kan moker. Hy het reeds ’n toetshonderdtal agter sy naam en ’n gemiddeld van meer as 50 lopies per beurt.

As 29-jarige is hy ouer as die meeste spelers wanneer hul die eerste keer vir hul land speel. Die legendariese Australiër Michael Hussey het egter ook soos Bedingham eers baie eersterangse ervaring opgedoen voor hy vir nasionale diens opgeroep is. En dit is waarskynlik een van die faktore wat die meeste in Bedingham se guns tel. Dié linkshandige kolwer is nie ’n groentjie nie.

Maties Krieket-afrigter Ryan Bailey het ’n lang pad met Bedingham gestap en om te sê hy is trots op dié oud-Matie is ’n groot onderbeklemtoning.

“David het gewys wat bereik kan word as jy volhard. Ek is baie trots op hom en die reis wat hy stap. Ek is ook trots op die rol wat die Maties Sport hoë prestasie-program in David se reis gespeel het. Hy is ’n uitsonderlike voorbeeld vir spelers daar buite. Ons gebruik hom as voorbeeld wanneer ons spelers vir Maties Krieket werf. Nie net om te wys watter soort speler vir Maties speel nie, maar ook vir die manier waarop ons program ’n verskil kan maak. Ek het nog gereeld kontak met David. Hy is ’n nederige en dankbare mens. En ek sal altyd tyd hê vir hom.”

Brits nou ’n Blitsbok

In 2019 het Brits na Matieland gekom in ’n poging om sy rugbyloopbaan weer op koers te kry. Dié boorling van Oos-Londen het in 2015 vir die SA Skole-span gespeel, in 2016 Stellenbosch toe gekom om vir die Westelike Provinsie se o.19-span te speel. Hy was in 2017 gekies vir die Junior Springbokke en het saam met ander Matie-legendes soos Edwill van der Merwe en Duncan Saal die nasionale o.21-titel vir die WP gewen.

Brits het egter nie soos hy en meeste van dié om hom verwag het ’n senior WP kontrak gekry nie. Skielik was hy en sy toekoms in onsekerheid gehul.

’n Maties Rugby-beurs het hom die geleentheid gegee om sy drome weer lewe te gee. Hy het die Varsitybeker in 2019 gewen, was in 2020 deel van die beginspan en in 2021 die Maties-kaptein. Dit was kort na die voltooiing van die 2021-toernooi wat hy deur Hawies Fourie genader is om in Bloemfontein vir die Vrystaat te kom rugby speel.

Brits het die geleentheid aangegryp en met sy vertonings veral in 2023 – wat ’n Curriebeker-medalje ingesluit het – het hy die oog van die Springbok Sewes-afrigters gevang. Die 26-jarige Brits het hom in November in Stellenbosch by die Blitsbokke aangesluit en in Januarie sy debuut vir die span in Australië gemaak. Hy volg in die voetspore van ander Maties-legendes soos Gio Aplon, Juan de Jongh en sy nuwe spanmaat James Murphy.

Maties Rugby-direkteur Drikus Hancke het baie met Brits te doen gehad in sy tyd by Maties. Hy het Brits as sy kaptein vir die 2021 Varsitybeker-reeks aangewys. Hancke het vir drie jaar gesien hoe Brits as speler en persoon groei.

“Ons is trots op David. Hy verdien beslis die erkenning. David was altyd die hardste werker in die span en het uitgestaan vir sy toewyding tot die sisteem. Hy was kaptein van ons senior Varsitybeker-span in 2021 en het sy spelers met voorbeeld gelei. Ons wens hom alles van die beste toe en ondersteun elke tree wat hy gee. Hy het ’n groot impak by Maties gemaak en ons het goeie herinneringe van sy tyd hier by die Maroenmasjien.”

— Artikel en foto’s deur Eunice Visagie.