Tyd om in te loer by Maties Sport Alumnus: Freda Kemp (Maties Netbal)

Kemp leef haar drome

As jy ’n plek soek om wortel te skiet, is die Stellenbosch Universiteit die plek vir jou.

Só praat Freda Kemp wat sedert 1993 vier grade by Maties verwerf het. Al vier by die Sportwetenskap Departement. Sy het haar BA-, honneurs- en meestersgraad agtereenvolgens voltooi, en in 2024 het sy haar PhD verwerf.

Freda was ’n sleutelspeler in die Maties-netbalspan wat verskeie goue medaljes in die 1990s verower het. Sy was deel van die span wat voor die USSA-sege van 2022, die laaste goue medalje in dié toernooi gewen het. Daar was ’n droogte van 27 jaar.

“Behalwe vir die goue medaljes, sal ek nooit die dag vergeet nie toe ons by die oefenbane opdaag en Sandra du Plessis (wat toe ons afrigter was), ons in ’n bussie gelaai het om in die sneeu in Ceres te gaan speel!”

Freda het vir die SA Skole-span gespeel en daarna was sy vir drie jaar in aksie vir die Boland o.21-span. In 2002 was sy kaptein van die SA Binnenshuise span wat Drienasies-toernooi teen Australië en Nieu-Seeland hier in die Kaap vir die eerste keer gewen het. Later was sy ook die afrigter van dié nasionale span. Sy het sowat 10 jaar terug weer betrokke geraak by netbal op buitebane. Sy was betrokke by Maties, Kaapse Wynlande, Van der Stel-klub en die Tornados.

Freda, vandag die ma van drie seuns, het nog altyd ’n passie vir netbal gehad. Eers as speler en nou as afrigter. En moenie vergeet van haar begeerte om die sport te ontwikkel nie.

Freda, wat steeds in Stellenbosch bly, is getroud met Bles Kemp oud-leerling van Paul Roos Gimnasium en voormalige Suid-Afrikaanse bofbal-speler. Hy het ook in Amerika vir ’n tyd lank gespeel.

Tans is Freda die Direkteur van Netbal by Hoërskool Fairmont in Durbanville. Sy is ook afrigter van die Southern Stings, wat in die Nasionale netbal-liga speel.

Om haar passie vir die ontwikkeling van die sport uit te leef, het sy die Westelike Provinsie Netbal Akademie saam met die Kaapstad Netbal-federasie begin. Dié akademie sal projekte en toernooie aanbied met die oog op die ontwikkeling en groei van die spel.

“Die afgelope dekade werk ek hard daaraan om die goue draad – van grondslag tot uitnemendheid – deur te trek sodat talent nie verlore gaan nie. Die WP Netbal Akademie gaan my hiermee help. Dit is vir my baie belangrik om toe te sien dat almal die kans kry om die talent wat hulle het ten volle uit te leef. Baie spelers wat op laerskool en hoërskool uitblink gaan verlore omdat die geleenthede nie altyd daar is om verder te vorder nie. Om die rede is dit vir my belangrik om ’n verskil te probeer maak en meer kanse aan almal wat graag netbal wil speel, te gee. Die spelers in die Wes-Kaap moet weet hoe hulle pad na die top vlak van die sport lyk. Ons werk hard om op klubvlak ons jong spelers te integreer met senior spelers en dis die lekkerste lekker om te sien hoe hulle groei en verbeter. Dit is ook belangrik om senior spelers bloot te stel aan die jonger spelers en so vir hulle ’n kans te gee om terug te gee aan die sport en te help bou aan die toekoms. Dit is vir my baie spesiaal om die interaksie tussen die spelers te sien,” vertel Freda.

Die voltooiing van haar PhD en die hele proses om daar te kom, was vir Freda ’n vervullende ervaring.

“Ek hou van die kennis wat mens opdoen met die gebruik van tegnologie. Ek het data ingesamel deur GPS-toestelle aan verskeie spanne te gee om tydens oefensessies en wedstryde te gebruik. Ek het daardie data gebruik vir navorsing om ’n aktiwiteitsprofiel saam te stel van elite-netbalspelers in Suid-Afrika. Ek het die spelers van die top vier spanne in die Telkom-netballiga gemonitor. Ek het onder andere die data van die eerste kwart met die vierde kwart vergelyk. Die data van oefensessies en wedstryde is teenoor mekaar gestel. Ek het dié informasie gebruik om die profiel saam te stel.”

Die rede vir dié navorsing is sodat afrigters spesifieke planne kan maak vir elke speler op grond van die speler se posisie.

“Ek kon danksy die data sien hoe elke posisie verskil op grond van faktore soos afstand, volspoed, versnellings, moegheid, werklading, ens. tydens elke wedstryd en oefensessie. Daar was duidelike verskille in elke posisie. Dit was vir my baie interessant dat ek wel drie groepe kon identifiseer wat se eise grotendeels ooreenstem.”

Die drie groepe was doele en verdedigers, senters, en dan het hulpdoele, hulpverdedigers, verdedigende vleuels en aanvallende vleuel almal in dieselfde groep geval.

Oor haar tyd as student by Stellenbosch deel Freda dat dit moeilik is om Matieland te verlaat as jy eers jou voete in dié dorp gevind het.

“Jy raak nooit moeg van die berge en riviere nie. Hier kan jy tuis voel.”