Maties behaal naelskraap-sege in Varsitybeker-openingswedstryd

Die vyfmalige FNB Varsitybeker-kampioen FNB Maties het Maandag in die Danie Craven-stadion ’n naelskraapse sege van 21-19 in die eerste ronde van die toernooi oor ’n begeesterde FNB Ikeys behaal.

Die tuisspan was met die rustyd met 9-16 agter. Maties het in die 71ste minuut eers weer punte aangeteken toe skrumskakel Tom Bursey oorgeduik het vir ’n sewepunt-drie en ’n stampvol Danie Craven het fees gevier. Jurie Matthee het met net vyf minute oor die drie verdoel en Maties was met ’n enkele punt agter, 18-19.

Matthee was die held van Danie Craven toe hy met speeltyd verstreke die bal deur die pale gejaag het nadat ’n strafskop toe geken is. Vir die Stellenbosse studente was dit weer lente!

Tot en met daardie laaste oomblikke was FNB Ikeys op die drumpel van ’n geskiedkundige sege. Matthee-hulle het egter vasgebyt vir ’n 14de sege oor die span van Kaapstad.

Krediet moet aan die besoekers gaan vir gedissiplineerde spel en ’n kliniese vertoning – veral op die verdediging.

FNB Maties het die eerste punte van die kragmeting aangeteken toe Matthee oor geduik het. Sy lynbreek het gekom ná briljante spel deur senter Mambo Mkhize. Bursey het ook ’n leidende rol gespeel deur vinnige diens.

Dit was die eerste van verskeie sewepunt-drieë in die wedstryd. Matthee het verdoel.

Die besoekers het redelik vinnig teruggeslaan. Skrumskakel Asad Moss het die verdedigingslinie gebreek en Duran Koevert het in die hoek afgerond. Ntokozo Makhaza het met dodelike akkuraatheid die drie verdoel.

FNB Maties se dissipline was ’n probleem. Hulle was twee keer net 14 man op die veld; in totaal 25 minute van die wedstryd. Die eerste keer was toe plaasvervanger-vleuel Maselino Pooe, wat Mike Mavovana reeds voor die afskop vervang het, ’n geelkaart vir ’n hoogvat op Moss gekry het.

Voormalige FNB UWK-kaptein, Lyle Hendricks het in sy debuut ’n sewepunt-drie vir die FNB Ikeys gedruk. Hendricks en FNB Ikeys het spasie goed benut en Makhaza het weer ’n moeilike skop verdoel om die besoekers in beheer van sake te plaas.

Die telling met rustyd was 16-9.

Ondersteuners was op hul voete toe slot Juan Beukes oorgeduik het en Matthee verdoel het, maar vreugde was van korte duur. Die televisie-skeidsregter het beslis dit was ’n dubbele beweging en die besoekers het ’n strafskop gekry om die druk te verlig.

Maties is weer tot 14 spelers verminder toe Marco Van Rhyn (plaasvervanger) kontak met FNB Ikey-flank, Sipho Dyonase se kop gemaak het.

Volgens die reëls van die FNB Varsitybeker-toernooi word ’n span toegelaat om die speler wat die rooikaart gekry het ná 15 minute te vervang. DeWet Marais het weer op die veld gegaan in die plek van Van Rhyn.

Vir sowat 20 minute in die tweede helfte is geen punte aangeteken nie. Makhaza het die droogte gebreek toe hy ’n strafdoel vir FNB Ikeys oor geklits het.

Die skare en die Maties het weer begin lewe toe Bursey agter die pale gaan kuier het. Met net een punt verskil was dit ’n riller-einde tot die kragmeting voor Matthee aangetree het vir die wenpunte.

Puntemakers:
Maties 21: DRIEË – Jurie Matthee (7), Tom Bursey (7); DOELSKOPPE: Matthee (2); STRAFDOEL: Matthee; GEELKAART: Maselino Pooe (19de minuut); ROOIKAART: Marco Van Rhyn (59ste minuut).
Ikeys 19: DRIEË: Duran Koevort (5), Lyle Hendricks (7); DOELSKOPPE: Ntokozo Makhaza (2); STRAFDOEL: Makhaza.

FNB Maties: 15. Cade Croy, 14. Aydon Topley, 13. Mambo Mkhize, 12. Waqar Solaan, 11. Mike Mavovana, 10. Jurie Matthee, 9. Tom Bursey, 8. DeWet Marais, 7. Simon Miller, 6. Gift Dlamini (k), 5. Juan Beukes, 4. Thys Kitshoff, 3. Corne Weilbach, 2. Siya Ngubelanga, 1. Vernon Matongo. PLAASVERVANGERS: 16. Francois Breytenbach, 17. Louwtjie Marias, 18. Ammaar Burton, 19. Marco van Rhyn, 20. Siya Matanda, 21. Eric Basson, 22. Mckyle Volmoer, 23. Luke Burger.
FNB UCT Ikeys: 15. Duran Koevort, 14. Rethabile Louw, 13. Jonathan Roche, 12. Lyle Hendricks, 11. Ntokozo Makhaza, 10. David Hayes (k), 9. Asad Moss, 8. Laro Delport, 7. Taariq Kruger, 6. Sipho Dyonase, 5. Johan van Rhyn, 4. Kyle Ndiao, 3. Keagan Glade, 2. Keagan Blanckenberg, 1. Christopher Pittaway. PLAASVERVANGERS: 16. Alex Castle, 17. Jovan Bekker, 18. Bryan le Roux, 19. Reynhardt Crous, 20. MacLeod Smith, 21. Dylan Munro, 22. Kyle Lamb, 23. Rihaz Fredricks.