Die pad vorentoe vir Justine Palframan-Donkin

Die sportgogga het Renaissance vrou Justine Palframan-Donkin vroeg in haar lewe gebyt.

“Ek het in ’n sportiewe huishouding grootgeword. My ma en pa het op die atletiekbaan ontmoet en was in dieselfde oefengroep,” sê Palframan-Donkin. Volgens haar beteken hierdie vroeë begin in die sportwêreld dat sy nog “altyd passievol oor sport was”.

In haar kinderjare het sy aan swem, hokkie en tennis deelgeneem, maar dit was op die atletiekbaan waar sy haar nis gevind het. “Atletiek is waar ek die meeste tuis gevoel het en gemaklik was. Dit is waar ek my talent kon uitleef,” sê sy.

Balansering van briljantheid

Volgens Maurice Fisher, atletiekhoofafrigter by Maties Sport, is wat Palframan ’n “unieke en briljante atleet” maak die feit dat sy op die hoogste vlak deelgeneem het terwyl sy ook ‘n voltydse student was.

Fisher sê balans is die sleutel tot Palframan se sukses. Hy verduidelik dat sy daarin geslaag het om ’n middeweg te vind tussen ’n gesonde persoonlike lewe en felle mededinging in die sport wat sy liefhet.

Dit is ’n uitdaging om hierdie balans te vind wanneer jy op ’n hoë vlak meeding, sê Palframan-Donkin. “Jy moet leer om te prioritiseer wat belangrik is, wat beteken dat jy op ander aspekte opofferinge moet maak.”

’n Hoë vlak van dissipline en die bereidwilligheid om opofferinge te maak wanneer dit nodig is, het Palframan-Donkin gehelp om haar doelwitte te bereik, vertel Fisher.

“Dit leer jou om jou tyd effektief te bestuur, om op jou doelwitte te fokus en hard te werk om dit te bereik wat vir jou belangrik is,” verduidelik Palframan-Donkin.

Palframan-Donkin het gekies om haar voorgraadse studie aan die Universiteit Stellenbosch in vier jaar te voltooi om meer tyd te hê om op die Wêreld Studentespele in 2015 en die Olimpiese Spele in 2016 te fokus.

Deur haar nagraadse studie oor twee jaar in plaas van een te strek, het sy weer sukses in haar atletiek- en akademiese loopbaan gevind. “Daar is keuses wat jy moet maak om suksesvol te wees. Aan die einde van die dag sal ek nie die vrou wees wat ek nou is sonder al die ervarings wat ek deurgemaak het nie,” sê Palframan-Donkin.

Vrou met baie talent

Terwyl sy haar meestersgraad (geslaag met cum laude) voltooi het, het sy ook begin werk as atletiekbestuurder by Hoërskool Stellenbosch. “Dit is ’n ongelooflike geleentheid om saam met die opkomende atlete te werk en hulle deur hul hoërskoolloopbaan te begelei. Ek het sulke groot mentors in die sportkantoor en op die skool gehad en ek het in soveel opsigte gegroei,” sê Palframan-Donkin.

Palframan-Donkin het ook verskeie in beserings in haar loopbaan oorkom. As ’n atleet is dit belangrik om die individue in jou span te vertrou om jou die leiding te gee oor dit wat jy nodig het om te herstel van die besering, sê Palframan-Donkin.

“Om geduldig te wees en vertroue te hê in die proses, is die sleutel tot suksesvolle herstel ná besering. Dit is ook belangrik om te onthou dat daar ’n rede vir alles is en dat die lewe meer as net jou sport is,” sê Palframan-Donkin.

Kyk na die toekoms

Vir die afgelope 10 jaar is Palframan-Donkin ’n legendariese figuur by Maties Sport. “Stellenbosch Universiteit was my eerste en enigste keuse…een wat ek nooit sal betreur nie,” vertel Palframan-Donkin.

“Ek het nog ’n paar verpligtinge voor my meestersreis verby is, maar vir die eerste keer in ’n baie lang tyd het ek kans om rustig te raak, asem te skep en te besluit wat volgende vir my is.”

In 2023 sal sy haar atletiek-loopbaan by Maties voortsit. “Dit was ’n ongelooflike reis tot hier. Ek het die geleentheid gehad om ’n wonderlike en professionele ondersteuningsisteem in my akademiese en atletiek-reis te hê,” sê Palframan-Donkin.

“As my liggaam dit toelaat, wil ek graag by die 2023 Wêreldbyeenkoms hardloop.” Sy sal mik om te kwalifiseer en deel te neem aan die 400m by die kampioenskapsbyeenkoms.

Palframan-Donkin se raad aan ander jong atlete: “Die lewe is vol ongelooflike oomblikke…jy moet net die tyd neem om te rustig te raak en dit te geniet. Dit is uitdagend om beide sport en akademie te balanseer, maar dit is beslis moontlik. Moenie bang wees om hulp te vra nie, maak seker jy gee prioriteit aan dit wat belangrik is, en maak altyd tyd vir diegene wat vir jou belangrik is.”

Deur Kara Olivier