FNB Maties net die sewende keer op tuisveld verslaan

Dit was ’n historiese oorwinning vir FNB CUT Ixias in die FNB Varsitybeker- toernooi toe hulle die vyfmalige kampioen FNB Maties met 19-23 verslaan het. Dit was die eerste keer dat dié span van Bloemfontein ’n sege in die Danie Craven-stadion behaal het.

Die Ixias was met die rustyd reeds met 13 punte voor.

Die tweede ronde van die kompetisie het sy leuse van The Heat Is On gestand gedoen. Die FNB CUT Ixias het met groot vuur gespeel en slegs die vyfde span geword om FNB Maties in dié ikoniese stadion in die FNB Varsitybeker-reeks te klop. Die sege was voor ’n beskeie skare.

Die tuisspan het gedink hy is op koers vir nóg ’n terugveg-sege danksy die skopskoen van nuwe kaptein Jurie Matthee. Gift Dlamini, wat die span verlede week op die veld gelei het, is tans buite aksie weens ’n besering. Dit was juis Matthee se skopvoet wat verlede week die sege verseker het. Dit was so byna weer die geval. Matthee het ’n massiewe skop veld af van binne sy eie 22 geskop met net vyf minute se speeltyd oor, wat die 50/22- reël in spel gebring het. Dié reël bepaal dat die tuisspan die lynstaan diep binne FNB CUT se helfte kry. Die tuisspan het egter nie daarin geslaag om te kapitaliseer op wat sy laaste kans was om sy teenstanders te klop nie.

’n Minder-as-kliniese vertoning van FNB Maties het hulle in die eerste tien minute gekeer om momentum te kry, dit was toe die besoekers wat eerste bloed getrek het toe Tyler Sefoor ’n strafdoel deur die pale geklits het.

Die FNB Maties is tot net 13 spelers verminder toe slot-duo Juan Beukes (11de minuut) en Thys Kitshoff (13de minuut) op omstrede wyse elkeen vir tien minute na die afkoelstoel gestuur is. Die skeidsregter het ’n span- waarskuwing aan FNB Maties gerig omdat hulle die onkantlyn een keer te veel in die eerste tien minute oortree het. Daar is toe voorbeelde van Beukes en Kitshoff gemaak.

FNB Maties se verdediging het aanvanklik gehou ondanks die hewige aanslag van die besoekers. Die verdedigingslinie kon egter nie stand hou onder die aanhoudende druk nie en Tokelo Ntaopane het oorgeduik vir sy span se eerste drie. Sefoor het verdoel. Met sy tweede strafdoel van die wedstryd het Sefoor die telbord met die strategie-breek op 13-0 vir die besoekers te staan gebring. Die vyfmalige kampioen het in die laaste paar minute van die eerste helfte die gaping laat krimp toe die lewendige skrumskakel Mckyle Volmoer van die basis van ’n losskrum flink gedink en die bal agter die doellyn geplant het. Matthee het die ekstra twee punte bygevoeg om die telling op 7-13 te staan te bring.

Die Ixias het egter die laaste sê in die eerste helfte gehad toe Asekho Marubelela sy span se tweede drie gedruk het. Sefoor het weer verdoel en die telling met die rustyd was 20-7 in die besoekers te guns.

Die telbord het vir lank onveranderd gebly in die tweede helfte. Albei spanne het kanse om punte aan te teken gehad, maar sonder sukses. Daar was verskeie oomblikke van komiese foute deur die tuisspan en daarom is oorheersing in fasette soos die skrums nie in punte omskep nie. Die besoekers het ook kanse gehad om die gaping te vergroot.

Harde woorde het geval in die tweede strategie-breek, want FNB Maties was blitsvinnig uit die blokke met die aanvang van die laaste sowat 20 minute van die kragmeting. Die plaasvervanger-haker Francois Breytenbach het FNB Maties se tweede drie gedruk en Matthee se doelskop het deur die pale geseil. Die telling nou 20-12.

Die skare het nooit opgehou om hul geliefde FNB Maties te steun nie, maar Sefoor se stewel het die besoekende span se voorsprong laat groei. Hy het sy derde strafdoel behaal met 10 minute speeltyd oor. Die voorsprong nou 11 punte. FNB Maties het dus nodig gehad om twee keer agter die doellyn te gaan kuier om sy trotse tuisrekord te handhaaf. En ofskoon die plaasvervanger-stut Ammaar Burton wel oorgeduik het vir een van die nodige twee, was die terugvegpoping nie genoeg nie. Dié keer is die knie gebuig.

Puntemakers
Maties 19: DRIEË: Mckyle Volmoer, Francois Breytenbach, Ammaar Burton.
DOELSKOPPE: Jurie Matthee (2).
GEELKAARTE: Juan Beukes (11de minuut), Thys Kitshoff (13de minuut).
CUT Ixias 23: DRIEË: Tokelo Ntaopane, Asekho Marubelela.
DOELSKOPPE: Tyler Sefoor (2). STRAFDOELE: Sefoor (3).
GEELKAART: Tjaart van der Walt (38ste minuut).

FNB Player that Rocks (Speler van die Wedstryd): Xavier Swartbooi (FNB CUT Ixias).

FNB Maties: 15. Cade Croy, 14. Matthew van Schalkwyk, 13. Grant de Jager, 12. Aydon Topley, 11. Maselino Pooe, 10. Jurie Matthee, 9. Mckyle Volmoer, 8. De Wet Marais, 7. Simon Miller, 6. Siyabonga Matanda, 5. Juan
Beukes, 4. Thys Kitshoff, 3. Corné Weilbach, 2. Siya Ngubelanga, 1. Louwtjie Marais. PLAASVERVANGERS: 16. Francois Breytenbach, 17. Vernon Matonga, 18. Ammaar Burton, 19. Matthew Gray, 20. Camden Schoeman, 21. HD Stemmet, 22. MC van Heerden-Smith, 23. Mambo Mkhize.
FNB CUT Ixias: 15. Ricoman Titus, 14. Zac Bester, 13. Lesley Botha, 12. Jandre de Beer, 11. Tsepo Malumane, 10. Tyler Sefoor, 9. Xavier Swartbooi, 8. Francois Bester, 7. Ulrich Stander, 6. Jacobus Cloete, 5. Matthew Sekele, 4. Asekho Marubelela, 3. Augustyn Zéan, 2. Tokelo Ntaopane, 1. Albertus Venter. PLAASVERVANGERS: 16. Tiaan Drotske, 17. Mamello Moshoaliba, 18. Sisipho Nofuya, 19. Tjaart van der Walt, 20. Katleho Morapane, 21. Thaiso Mkhwebane, 22. Adielson Gouveia, 23. Jacobus Venter.