Anika Pretorius: van baanatleet tot roeier

Anika Pretorius het as 10-jarige haar atletiek-loopbaan begin. Terwyl sy aanvanklik aan hoogspring en verspring deelgeneem het, het haar sig geleidelik verswak en het sy na naellope oorgeskakel. Ten spyte van die feit dat haar sig nog meer agteruitgegaan het, het sy aanhou kompeterend hardloop. 

As 19-jarige het Anika haar Spele debuut by die 2012 Londen Paralimpiese Spele gemaak. Byna 10 jaar later het sy die eindronde van die 100m T13-wedloop in die Tokio Paralimpiese Spele gehaal waar sy in die vyfde plek – in ’n persoonlike beste tyd van 12.33 sekondes – geëindig het.  

Anika vertel dat sy met ’n besering aan die Paralimpiese Spele deelgeneem het, maar dit het nie haar vasberadenheid verminder om haar alles te gee nie. “Ek was eintlik nog besig om van my voet-besering te herstel. Ek het basies na die Paralimpiese Spele gereis met ’n besering, en dit net nooit beter geword nie,” vertel Anika. 

Nie lank na die Spele nie, het sy besluit dit is tyd om dalk van sportsoort te verander. Haar broer se vriend het voorgestel dat sy roei as ontspanningsport ’n kans moet gee. Dit sal haar die geleentheid gee om so bietjie stoom af te blaas siende dat sy ’n PhD-kandidaat aan die Universiteit Stellenbosch is, nadat sy reeds haar Meestersgraad (Cum Laude) in Sportwetenskap verwerf het.  

“Ek kon weens my slegte sig nooit aan ’n spansport deelneem nie. Ek kon ook nie ’n bal vang nie dus was balsporte ook nie ’n opsie nie,” sê Pretorius laggend. 

“My broer se vriend het gesê siende dat ek beseer is, moet ons gaan roei. Hy het saam met my begin, maar na ’n paar keer was ek die een wat vasgebyt het! Ek het eerlikwaar begin om dit te geniet. Dit was vir my ’n goeie manier om aktief te bly terwyl ek beseer was. Ek het inderwaarheid dit so baie geniet dat ek by die klub aangesluit het.” 

Sy was oop vir die idee om iets nuuts te probeer, en nadat sy ’n bietjie navorsing gedoen het, het sy besef dat roei ’n goeie manier vir haar sal wees om aktief te bly en stres te verminder, terwyl sy ook nog op haar studies fokus. Op dié manier het sy sommer twee doele met een taak vermag: bly fiks en hê pret. 

Die oorgang van atletiek na roei het haar goed gedoen, nie net fisies nie, maar ook geestelik. Sy beskryf die gevoel as ’n “groot motiveerder”.  

Dylan Schmidt die President van Maties Roei het haar ingelig oor die Wêreld Roei binnenshuise byeenkoms. Hy het haar tye by Roei Suid-Afrika ingedien. Dié organisasie het met haar kontak gemaak en haar ingelig dat haar tyd haar op koers plaas vir kwalifikasie in die para-kategorie.  

“Aan die einde van verlede jaar het ek op ’n emosionele vlak baie gesukkel. Dit was beslis ’n laagte punt in my lewe. Ek dink die uitdagings van die PhD het baie druk op my geplaas. Daar was ook heelwat terugslae wat ek moes verwerk. Die roei en Wêreldbyeenkoms het my skielik iets anders gegee om op te fokus en aan te pak.” 

In die bestek van minder as 12 maande as deel van die Maties-roeiklub het Anika reeds twee wêreldrekords laat spat. Sy is tans die wêreldrekordhouer in die Concept2 RowErg vir vroue 19-29 PR3 (VI) oor 2000 m met ’n tyd van 7 minute en 25.4 sekondes. Sy het ook die vinnigste tyd – 1:38.2 – in die Vroue 19-29 PR3 (algeheel) oor 500 m. 

“Ek het dit aanvanklik net geniet om saam met die Maties-roeiers te roei. Ek het die sport ook baie geniet. Toe besef ek dat ek dit eintlik maklik vind om die hoë krag tempo vol te hou. Ek hou daarvan om my liggaam tot die uiterste te druk. Van die spanlede het begin opmerk oor hoe goed ek doen, en dit het baie vir my beteken. Ek was deel van die span. My spanlede het my vriende geword.” 

Op die vraag of naellope steeds haar gunsteling sport is, sê sy dat dit so lekker is om te roei omdat dit deels ’n spansport is. 

“Om te fokus om gesinchroniseer met almal te wees en saam te werk om die beste vir die span te kry, is spesiaal. Ek dink ek hou dalk nou meer van roei as van naellope!” 

Die nuwe wêreldrekordhouer sal Maties by die 2023 USSA Roei-naellope (31 Maart – 2 April) op die Misverstanddam verteenwoordig. Dit sal haar debuut op water wees. Oor die nuwe uitdaging is Anika baie opgewonde. Sy het hard saam met haar spanmaats geoefen en is vol vertroue dat hulle groot sukses sal behaal. 

“Dit gaan my eerste wedren op die water wees so ek is baie opgewonde! Omdat ek goed op die roeimasjien gevaar het, kyk almal om te sien of ek dit nou op die water ook kan doen so daar is ’n mate van senuweeagtigheid ook.” 

Anika is positief en opgewonde oor wat die jaar vir haar studies en haar nuwe sportkode inhou. Sy glo dat om kinderlik te wees in haar drome en doelwitte haar help om haar sport en studies te geniet. “Moet nooit dat jou drome ’n las word nie.” 

Anika glo dat as jy ’n passie vir iets het, dit met vreugde en verwondering nagestreef moet word. Sy streef daarna om haar doelwitte haalbaar, dog uitdagend te maak, en om die klein suksesse langs die pad te vier. Dit help haar om gemotiveerd te bly en gee haar die nodige momentum om aan te hou vorentoe beweeg. 

Deur Jamie Wyngaardt