Maties Rugby-kaptein ken van onder druk presteer

Die Maties Rugby-kapteinskap beteken vir hom meer as om net voor te draf uit die tonnel, vir Jurie Matthee is dit die geleentheid om ’n verskil te maak in iemand se lewe. 

“Met die kapteinskap kom die verantwoordelikheid om die span se kultuur te dryf, die standaarde te stel en leiding te neem wanneer dit moeilik raak. Vir my is die grootste geleentheid met dié platform egter die een wat my die voorreg gee om ’n werklike verskil in ’n spanmaat se lewe te maak. Nie net as speler nie, maar as individu,” sê Matthee, wat in 2021 sy senior debuut vir Maties gemaak het. 

Die 22-jarige Matthee het in net die tweede wedstryd van die FNB Varsitybeker-reeks die kapteinskap by Gift Dlamini oorgeneem nadat Dlamini ’n ernstige knie-besering opgedoen het. 

Vra jy vir Matthee wat sy span spesiaal maak, raak hy stil vir ’n oomblik en mens kan sien dié antwoord kom uit sy hart. 

“Dis ons veggees. Die ouens ken nie van opgee nie. Ek sê nie alles werk altyd uit nie, maar ek wéét my spanmaats gaan nie opgee nie maak nie saak wat gebeur nie. Daarmee saam kom die broederskap. Dit is iets wat onvoorwaardelik is. Ons aanvaar mekaar vir die persoon wat elkeen is. Ons is bewus van mekaar se sterk- en swakpunte, maar dit is nie waarop ons bou nie. Elke speler wil verbeter op die veld, maar elkeen wil ook sy volle potensiaal as persoon bereik,” vertel Matthee. 

Matthee het in 2022 sy Hons BRek-graad verwerf. Op sy eie reeds ’n uitsonderlike prestasie siende dat dit een van die Stellenbosch Universiteit se mees uitdagende programme is. Matthee het egter dit gedoen terwyl hy homself ook as ’n eerstekeuse-speler vir Maties gevestig het. 

“Daar was dié wat gesê het ek sal nie my BRek-grade kan voltooi én vir Maties rugby speel nie…soos my spanmaats was ek egter nie bereid om op te gee nie!” vertel Matthee, wat vir die Maties Young Guns in 2020 gespeel het. 

Ander Young Guns-spanmaats wat nou vir Maties in die Varsitybeker-toernooi in aksie is, sluit in slotte Juan Beukes en Thys Kitshoff, flank Simon Miller en skrumskakel Tom Bursey. 

Matthee het sy eerste Varsitybeker-wedstryd in 2021 teen UWK gespeel. Dit was in die bubble in Pretoria waar die toernooi plaasgevind het weens die toe nog Covid-19-beperkings. Matthee het vanjaar sommer met die intrapslag sy stempel as rolspeler vir Maties afgedruk in die onvergeetlike ontmoeting met Ikeys in die openingswedstryd van die toernooi. 

Toe Matthee aantree vir die beslissende skop van die wedstryd sou mens nie aan sy gesigsuitdrukking kon sien dat die hele Maties Rugby-struktuur – spelers en bestuur – saam met ’n stampvol Danie Craven se verwagtinge op sy regtervoet rus nie. Dit is immers een van Matthee se karaktereienskappe as speler en leier: kalmte onder druk. 

Die keuse om na Matieland te kom, was ’n maklike een vir Matthee, wat aan Paarl Gimnasium gematrikuleer het. 

“My oupa en pa het by Maties geswot en in Dagbreek gebly. Later jare het my neefs my blootgestel aan Koshuisrugby. Ek het sommer vinnig ’n begeerte ontwikkel om ook dit te ervaar. Ek sal eerlik wees en byvoeg dat my droom vinnig groter geword het as om net Koshuisrugby hier by Maties te speel. Daar is ’n romantiek omtrent dié dorp…”