Maties nou tweede op Varsitybeker-puntestand

In ’n herhaling van die 2022 FNB Varsitybeker-eindstryd, het FNB Maties die verdedigende kampioen, FNB UP-Tuks, op Maandag 20 Maart in die Danie Craven-stadion deeglik met 46-35 geklop. 

Die Stellenbosch-span bevind hom nou net drie punte agter die algehele voorlopers, NWU Arende. 

 Ondanks die feit dat Maties in die eerste helfte drie keer meer foute begaan het as die span van Pretoria, het Maties rustyd met ’n gemaklike voorsprong van 31-7 ingegaan. 

 Grant de Jager, ’n uitblinker van verlede week se opspraakwekkende oorwinning van 56-54 teen Wits, was weer in goeie vorm. Die eerstejaarstudent, wat vir tweede keer in net soveel weke as die FNB Speler van die Wedstryd aangewys is, het goeie lyne gehardloop en ‘n paar waardevolle meters vir die tuisspan gewen. Sy sewepunt-drie het gekom danksy uitstekende bewustheid van sy ruimte. De Jager het die bal met ’n skoppie onderskep, die bal opgepik en toe hakskene gewys om oor te duik vir Maties se tweede drie. 

 Maties-losskakel Jurie Matthee was dodelik akkuraat met sy skopwerk. Die kaptein het al drie eerste helfte drieë verdoel, tesame met twee strafdoele vir ’n bydrae van 12 punte in die eerste helfte. Matthee was ook baie presies met sy taktiese skopwerk, terwyl die veteraan-senter Waqar Solaan gereeld met gemak oor die voordeellyn gekom het. 

 Solaan het Maties se eerste punte aangeteken en Matthee het die ekstra twee punte bygevoeg (7-0). Kort daarna, in wat die enigste werklike tyd was wat Tuks met selfvertoue aangeval het, het die besoekers se Allister Williams oor gestorm en Walter Visser het verdoel om die telling gelyk (7-7) te maak.  

 Beide De Jager en Matthew van Schalkwyk het elkeen ’n sewepunt-drie gedruk en Matthee het albei verdoel om die vyfmalige kampioene se voorsprong tot 31-7 te rek. 

 Maties het in die eerste paar minute van die tweede helfte voortgegaan waar hulle opgehou het toe die plaasvervanger-agterspeler Jacques Rousseau in slegs sy tweede FNB Varsitybeker-wedstryd ’n drie gedruk het. Matthee se doelskop was sekuur (36-7). 

 Die manne van Pretoria het teruggeveg met twee vinnige drieë deur agterspelers Zander Reynders en Zandré Kruger. Danksy Visser se doelskop was die verskil nou 17 punte. Wat as die potensiële skuif in momentum beskou kan word, was toe Visser oorgedraf het vir sy span se vierde verdoelde drie, maar nog belangriker dit was ’n sewepunt-drie wat Maties se voorsprong tot net agt punte laat krimp het. 

 Maties het egter met hul tweede (of dalk derde) asem Tuks se aanslag afgeweer met goeie verdediging.  

Met net drie minute se speeltyd oor het slot Simon Miller oorgeduik en Matthee se doelskop was sout in Tuks se wonde. 

FNB Player That Rocks: Grant De Jager (Maties) 

PUNTEMAKERS: Maties 46 – DRIEË: Waqar Solaan, Grant De Jager, Matthew Van Schalkwyk (sewepunt-drieë), Jacques Rousseau, Simon Miller. DOELSKOPPE: Jurie Matthee (4). STRAFDOELE: Matthee (3). GEELKAART: Thomas Bursey. Tuks 35 – DRIEË: Allister Williams, Zander Reynders, Zandre Kruger, Walter Visser (sewepunt-drie), Bayanda Ngubane. DOELSKOPPE: Visser (3), Clyde Lewis. GEELKAART: Louis Meiring. 

FNB Maties: 15. Cade Croy, 14. Marcqiewn Titus, 13. Grant de Jager, 12. Waqar Solaan, 11. Matthew van Schalkwyk, 10. Jurie Matthee, 9. Thomas Bursey, 8. HD Stemmet, 7. Louw Nel, 6. Siyabonga Matanda, 5. Simon Miller, 4. Marco van Rhyn, 3. Ammaar Burton, 2. Siya Ngubelanga, 1. Vernon Matonga. PLAASVERVANGERS: 16. Willem van der Heever, 17. Ian Rheeder, 18. Corné Weilbach, 19. Juan Beukes, 20. Camden Schoeman, 21. Mckyle Volmoer, 22. Mambo Mkhize, 23. Jacques Rousseau 

FNB UP-Tuks: 15. Samkelo Myeni, 14. Ambesa Zenzile, 13. Zander Reynders, 12. Lincoln Daniels, 11. Clyde Lewis, 10. Walter Visser, 9. Rowan Cloete, 8. Dian Schoonees, 7. Hilton Gie, 6. Justice Nkombua, 5. Louis Meiring, 4. Johannes Mare, 3. Dian Coetzee, 2. Allister Williams, 1. Ethan Burger 

PLAASVERVANGERS: 16. Andre Van der Merwe, 17. Bambolunye Dlamini, 18. Werner Geldenhuys, 19. Makhekhaya Malunjwa, 20. Juandré Jooste, 21. Daimon O’Connell, 22. Zandre Kruger, 23. Bayanda Ngubane. 

Waqar Solaan of Maties during the 2023 Varsity Cup match between Maties and Tuks at the Danie Craven Stadium, Stellenbosch, SOUTH AFRICA