Die Universiteit Stellenbosch ontvang Platinum-sertifisering as ‘n FISU Gesonde Kampus

Die Universiteit Stellenbosch (US) is die eerste universiteit in Suid-Afrika wat in Junie 2024 amptelik ‘n Platinum-sertifisering as ‘n Gesonde Kampus van die Federasie van Internasionale Universiteitsport (FISU) ontvang het. Hierdie sertifisering poog om alle aspekte van welstand vir studente en die kampusgemeenskap in sy geheel te verbeter.

“Om die Platinum-sertifisering as ’n FISU Gesonde Kampus te ontvang, bevestig die werk wat ons as ’n instelling gedoen het, onder leiding van Maties Sport, om gesondheid en welstand te bevorder”, sê prof Stan du Plessis, Uitvoerende Bedryfshoof van die US. “Ons is dankbaar teenoor Maties Sport wat die inisiatief geneem het om ons inligting vir hierdie sertifisering saam te stel en in te dien.”

FISU Gesonde Kampus is ‘n wêreldwye inisiatief wat daarop gemik is om gesonde leefwyses op kollege- en universiteitkampusse regoor die wêreld te bevorder. Die program moedig universiteite aan om omgewings te skep wat fisiese, geestelike en sosiale welstand vir studente, fakulteite en personeel prioritiseer. Die enigste ander universiteit in Suid-Afrika wat ‘n sertifisering ontvang het, was die Universiteit van Johannesburg (UJ).

“Hierdie sertifisering bevestig die US se strewe om ‘n veilige en gesonde omgewing vir ons studente, personeel en kampusgemeenskap te skep. Om aan noukeurig saamgestelde regulasies en maatstawwe te voldoen, kan die US gesondheids- en welstandhulpbronne oral by ons kampuslewe en kultuur insluit en so verseker dat ons ‘n bemagtigende omgewing skep waar al ons belanghebbendes ‘n gesonde en volhoubare leefstyl kan handhaaf,” sê Du Plessis.

Die inisiatief bevorder ‘n reeks aktiwiteite, insluitend sport, oefening, gesonde eetgewoontes, stresbestuur en geestesgesondheidsondersteuning. Dit moedig ook skole aan om beleide en programme te ontwikkel wat inklusiwiteit, veiligheid en positiewe sosiale verbindings bevorder.

Om in die uiteenlopende eise van studente en personeel te voorsien, volg die program ‘n deursnee-benadering wat nie net fisiese aktiwiteit insluit nie, maar ook gesonde kampusbestuur, geestelike en sosiale gesondheid, voeding, siektevoorkoming, risikogedrag, omgewings- en sosiale verantwoordelikheid en volhoubaarheid.

Maties Sport se bestuurder, Andiswa Zwelibanzi, wat aan die hoof was van die proses om sertifisering te bekom, onder leiding van Sean Surmon, Direkteur by Maties Sport, het gesê die proses het in 2022 begin met min kennis en agtergrond van die FISU Healthy Campus Project. “Dit was ’n lang reis en ons het baie navorsing gedoen oor die beste praktyke by ander instellings in hoër onderwys wêreldwyd en uitgereik na die Universiteit Stellenbosch se interne belanghebbendes, gebaseer op sewe domeine om die verlangde mylpale te bereik.”

“Die doelwit was van die begin af duidelik: ons wou Platinum-sertifisering verseker. Ons grootste les uit hierdie projek was dat enigiets moontlik is deur samewerking en spanwerk. Dit het my ook die geleentheid gebied om meer te wete te kom oor ander ruimtes binne die universiteit in terme van beleide, praktyke en projekte,” het sy gesê.

“Ek is baie trots daarop dat die Universiteit Stellenbosch ‘n Platinum-sertifisering vir die FISU Healthy Campus-inisiatief verwerf het. Hierdie betekenisvolle prestasie weerspieël die harde werk en toewyding van Maties Sport en die res van die US personeel. Dit is ‘n bewys van ons verbintenis tot uitnemendheid en ons begeerte om die hoogste vlak van diens en ondersteuning te bereik: om erken te word as een van die gesondste kampusse in Afrika,” het Ilhaam Groenewald, Hoofdirekteur Maties Sport, gesê.

Die sewe domeine wat Zwelibanzi noem, is: fisieke aktiwiteite en sport, voeding, siektevoorkoming, geestelike en sosiale gesondheid, risikogedrag, omgewingsvolhoubaarheid en sosiale verantwoordelikheid, en gesonde kampusbestuur. Verskeie interne belanghebbendes by die universiteit het die sertifisering moontlik gemaak, soos Kampusgesondheid, Menslike Hulpbronne Welstand en die Sentrum vir Studentegemeenskappe, Fasiliteitsbestuur, Risikobestuur en Kampussekuriteit, SUNCOM, US Welstandskomitee en Maties Sport.

 

Vir verdere inligting:

Kimara Singh

kimaras@sun.ac.za

0218082141