Maties Sport vier jaarlikse toekenningsaand

2023 was ’n triomfantelike jaar vir Maties Sport.

Die Maties Rugby-vrouespan het die eerste weergawe van die Varsitybeker-toernooi vir vroue gewen. Maties Netbal-alumni Nichole Taljaard en Nicola Smith het die Proteas in die eerste Wêreldbeker-netbaltoernooi op die Afrika vasteland verteenwoordig. Die uitstaande prestasies van vroue atlete was ’n belangrike fokuspunt in Suid-Afrika. Om dié rede was die tema van die aand “Hier vir Haar”.

Meer as 200 student-atlete se prestasies is op 19 Oktober erken. Dit was ’n viering van die uitsonderlike prestasies van studente-atlete en personeel.

Die gasspreker was Adele Niemand-Zeelie. Sy is ’n voormalige Protea-netbalspeler en as voormalige Maties netbal-verdedigingsafrigter het sy ’n sleutelrol in die verowering van Maties se eerste Varsity Sport-netbaltitel in 2022 gespeel.

“Ek het nog altyd geglo jy kan jou eie grense toets. Geestelik het ons die neiging om onsself te oortuig dat ‘Ek kan nie of sal nie’ omdat die fisieke eis te groot is. Ek beplan nooit om eerste te kom of te wen nie. Ek kompeteer teen myself met die idee om beter te wees as die vorige keer,” het sy vertel.

Adele, wat borskanker oorwin het, het gedeel hoe sy die grootste uitdagings in haar lewe oorkom het en hoe dit haar nie weerhou het nie om haar grense te toets en alles te bereik waarop sy haar fokus gesit het.

Lutho Skweyiya en Ongeziwe Mali is onderskeidelik as Sportman en Sportvrou van die Jaar aangewys. Dié toekennings erken die uitstaande pogings en beduidende bydraes wat Stellenbosch Universiteit se student-atlete maak tot die sportgemeenskap. PhD-kandidaat en roeier Anika Pretorius is as ParaSportvrou van die Jaar aangewys.

Lutho, Ongeziwe, en Anika het konsekwent hul toewyding op en van die veld gewys. Elke wenner het hul dankbaarheid uitgespreek met die ontvangs van hul toekenning.

Anika Pretorius – Maties Roeier

“Ek is baie opgewonde en so dankbaar vir hierdie toekenning. Ek het vanjaar met roei as sport begin. Dit was ongelooflik om vir die eerste keer deel te wees van ’n spansport, om iets anders by Maties Sport te ervaar. Dit is ’n groot eer, en ek is net so dankbaar.”

Lutho Skewyiya – Kaptein, Maties Basketbal

“Ek het eerlikwaar nie die toekenning verwag nie…Dit is surrealisties. Ek weet beslis ek het hard gewerk en het ambisies, maar ek het nie verwag om erken te word vir al die werk wat ek die afgelope vyf jaar ingesit het nie. Ek het dit in die donker gedoen, denkende dat dit een dag sin sal maak, die Here het sy maniere.”

Ongeziwe Mali – Kaptein, Maties Hokkie Vroue

“Ek is baie bly oor die toekenning. Ek kon dit egter nie sonder my span of my afrigters gedoen het nie. Leno (Lenise Marias, Maties Hokkie Hoofafrigter) het ’n baie belangrike rol gespeel. Ek is ook dankbaar teenoor Maties Sport vir die manier waarop hulle my reis as Matie ondersteun het. Ek wil graag almal bedank wat deel was van my loopbaan. Vorentoe en opwaarts!”

Maties Hokkie vroue-hoofafrigter, Lenise Marias is as Afrigter van die Jaar vir spansporte aangewys. Atletiek afrigter Daniel Damon wat spesialiseer in diskus en spiesgooi het met die toekenning as die Afrigter van die Jaar (Individuele Sport) weggestap.

Maties Rugby is met twee toekennings vereer. Die vroue-span is aan Span van die Jaar aangewys en Maties Rugby is ook as Klub van die Jaar gekroon. Dié erkenning is ’n getuienis van die harde werk, passie en toewyding tot die verbetering van die klub.

Meriete toekennings is aan Lehan Botha as Studente Administrateur van die Jaar en personeel Charlé Swart gegee. Aan Hadley Volkwyn, wat ’n vol termyn van amp gedien het en bygedra het tot leierskap op ’n nasionale/internasionale vlak, is die Uitvoerende Leierskap Toekenning gegee.

Spesiale Erkenning-toekennings vir deelname op senior internasionale vlak is aan Brandon Beack, Mandilene Hoffman, Nicola Smith, en Nichole Taljaard gegee. Dit is vir Stellenbosch Universiteitsalumni of nie-studenteklublede wat op die hoogste vlak kompeteer nadat hulle die universiteit verlaat het. Maties Sport Hoofdirekteur, Ilhaam Groenewald, het die toekennings gemaak.

Daarbenewens is 15 atlete erken vir hul akademiese prestasies en 37 atlete het vol erekleure ontvang vir hul uitstekende prestasie terwyl hulle Maties Sport en hul land internasionaal verteenwoordig het.

 

Deur Jamie Wyngaardt