Edwill, Ben-Jason se Springbok-drome bewaarheid

Legendariese Maties-rugbyspeler Edwill van der Merwe maak sy Springbok-debuut die komende naweek teen Wallis op Twickenham.

Edwill het 37 Varsitybeker-wedstryde vir Maties gespeel en hou steeds die rekord vir die meeste drieë – 23 – in dié reeks. Hy was ’n sleutelspeler in die spanne wat die trofee in 2018 en 2019 gewen het. Hy het Maties van 2016 tot 2019 verteenwoordig.

“Ek is so dankbaar vir die geleentheid om vir die Springbokke te speel. Dit is iets waarvan ek sedert ek ’n kind was, droom,” sê Edwill, wat Paul Roos Gimnasium se 55ste Springbok is.

“Ek is bietjie op my senuwees, maar ook baie opgewonde. My drome is uiteindelik realiteit. Ek sien uit na die geleentheid en gaan dit met albei hande aangryp. Om op Twickenham te speel, is ook iets waarna ek uitsien.”

Edwill (28) was ’n leerling van Laerskool Eikestad en sy ouers bly steeds in Kylemore waar hy groot geword het.

Edwill is een van drie Maties wat Saterdag hul Bok-drome bewaarheid.

Jordan Hendrikse (losskakel) en Edwill is onderskeidelik Springbokke nommer 184 en 185 vir Maties. Hendrikse (22) het vier wedstryde vir die Maties Young Guns in 2020 gespeel. Die 26-jarige Ben-Jason Dixon, kaptein van die Varsitybeker-span in 2020, sal die klub se 186ste Bok wees wanneer hy op die veld draf as plaasvervanger. Ben-Jason (losvoorspeler) is PRG se 56ste Springbok.

“Ons by Maties Rugby is trots op Edwill, Ben-Jason en Jordan. Hul insluiting in die span is welverdiend,” sê Drikus Hancke, Direkteur van Maties Rugby.

“Edwill en Ben-Jason het ’n blywende impak op die klub gehad. Nie net danksy hul spel op die veld nie, maar ook die mense wie hul was af van die veld. Albei is goeie voorbeelde van wat dit beteken om studente-atlete te wees. Hulle is individue met grade wat rugby op die hoogste vlak speel. Edwill en Ben-Jason is ’n voorbeeld van Maties, en ander universiteite, se doel om die weg te baan vir jongmense wat grade wil verwerf én sport hul loopbane wil maak.”

Edwill, Ben-Jason en Jordan het al drie ook vir die Junior Springbokke speel.

Die ander Maties in die uitgebreide Springbok-groep is Grant Williams (skrumskakel), Neethling Fouché (stut) en André-Hugo Venter (haker).