Maties wil VB-geskiedenis herskryf

Kabamba Floors en sy FNB Maties-rugbyspan is twee seges weg om hul name in die geskiedenisboeke van die FNB Varsitybeker-toernooi te verewig as die eerste span wat die gesogte trofee ses keer kon wen.

In die eerste van die twee halfeindstryde op Maandag, 15 April verwelkom Maties die 2015-kampioene, Shimlas, in Stellenbosch, waar ’n vol Danie Craven-stadion op die Vrystaters wag. Die huidige kampioene, NWU Arende, speel teen die ander Wes-Kaapse span, die FNB Ikeys, in die tweede halfeindstryd.

“Ons weet ons het baie lojale en toegewyde ondersteuners, en ons het die hele toernooi hard gewerk om vir ’n tuishalfeindstryd te kwalifiseer,” het die Maties-hoofafrigter, Floors, gesê nadat sy span tweede op die finale 2024-punteleer geëindig het om die halfeindstryd in die Danie Craven te verseker.

Dit was amper ’n perfekte seisoen vir Floors en sy spelers, met hul tweede plek net een punt agter die FNB NWU Arende. Op die pad na die halfeindronde het Maties albei spanne van Bloemfontein – FNB Shimlas en FNB CUT – op hul tuisvelde verslaan. Die Maroenmasjien het ook ’n indrukwekkende 15-10 oorwinning teen bure Universiteit van Kaapstad – op die winderige en vyandige Green Mile – behaal.

Maties het goeie vertonings gelewer in veral die laaste deel van hierdie jaar se kompetisie. Hul spelpeil het vir vier bonuspunt-sege in hul laaste vier wedstryde gesorg. Dit is ’n bewys van die span se veerkragtigheid, samewerking, en talent.

Die groep-wedstryde het op Maandag, 8 April tot ’n einde gekom met Maties wat hul sewende sege behaal het en hul onoorwonne rekord in wegwedstryde behou het. Hul enigste nederlaag was in die openingswedstryd teen die verdedigende kampioene, NWU Arende, met 12-23 in Stellenbosch.

Teen die vierde ronde het Floors se manne van hul beste rugby begin speel. Net betyds vir die uitklopfase. Hy was veral positief oor die terugkeer van sleutelspelers soos MC van Heerden, Ethan Snyman, Edrich Viljoen en Ezekiel Ngobeni, wat vroeër in die toernooi beserings opgedoen het.

Floors, ’n voormalige Springbok- én Blitzbok-speler volg die goue reël van enige toernooi – om net op een wedstryd op ’n slag te fokus en nie te ver in die toekoms te kyk nie.

“Soos die kompetisie in die komende drie weke moeiliker raak, wil ons op die regte tyd ons beste spel opdis om onsself in ’n posisie te plaas om die uitspeelrondes te haal,” het Floors ná Maties se 54-22 oorwinning teen UJ gesê.

“Ons sal elke wedstryd op sy eie meriete evalueer en dit so benader. Ons kan nie nou al aan Shimlas dink nie; ons fokus op wat ons in die volgende wedstryd moet doen.”

Floors het ook die lof besing van Maties se mediese en kondisioneringspan vir hul uitstekende werk om die spelers fiks en gesond te hou.

“Ons was baie geseënd met min beserings hierdie seisoen, en dit getuig van die uitsonderlike werk van ons mediese en kondisioneringspan. Ons fisioterapeut, Diana Jansen, ons kondisioneringsafrigter, MC Coetzee, en spandokter, Dr. Craig Thompson, moet spesiale erkenning kry vir hul harde werk om die span in optimale fisiese toestand te hou.”

Met die halfeindstryd om die draai het Floors en sy span hul strategie gevolg en so byna boaan die punteleer geëindig. Hulle het ook ’n sielkundige voordeel oor Shimlas ná hul vroeëre oorwinning, maar Floors waarsku teen enige oorgerustheid.

“Dit is maklik om in ’n gemaksone te beland, maar ons is bewus van die gevaar wat Shimlas vir ons inhou. Ons kan nie staatmaak op wat in die verlede gebeur het nie; ons fokus is nou net op die halfeindstryd.”

Al is hy versigtig vir die uitdaging wat die Bloemfontein-span bied, het Floors ’n inspirerende boodskap aan die lojale Maties-ondersteuners voor hierdie belangrike wedstryd.

“Dit is ’n voorreg om voor ’n vol Danie Craven-stadion op ’n Maandagaand te speel. Maandag is ons belangrikste wedstryd van die seisoen, en niks anders wat tot dusver gebeur het, maak nou saak nie. Al wat tel, is Maandag.”