Kampussport-aande groot sukses

Maties Sport het met Kampussport-bumperaande ’n nuwe aanbod in ontspanningssport aan die Stellenbosch Universiteit-gemeenskap bekendgestel.

Dié bumperaande het begin met ’n verskeidenheid sportkodes wat almal op ’n Vrydagaand gespeel is. Die sportkodes sluit in rugby, netbal, sokker, hokkie, tennis, tafeltennis en basketbal. Die inisiatief is daarop gemik om studente se fisiese fiksheid, geestelike welstand en algehele kampuservaring te verbeter. Dit het op 4 en 18 Augustus en 29 September plaasgevind met ’n groot aantal toeskouers wat die onderskeie wedstryde bygewoon het.

“Kampus Sport bied ’n geleentheid vir almal wat by die Stellenbosch Universiteit betrokke is om óf deel te neem óf om jou vriende te kom ondersteun. Ons weet dat aktiwiteite en beweging lei tot ’n beter funksionerende brein. Dit is ook om die verskillende sportkodes die nodige blootstelling te gee deur alle sporte vir een aand bymekaar te bring en toeskouers die geleentheid te gee om verskillende kodes te ondersteun,” het die hoof van die werkgroep vir hierdie geleenthede, sportbestuurder Anche Nortje, gesê.

Stephan Bekker, ’n hokkiespeler van Dagbreek, het vertel van die ekstra kameraadskap wat die bumperaande onder die koshuis se inwoners geskep het.

“Die bekendstelling van die Kampus-sportfees was ’n welkome verrassing vir Dagbreek. Die moeite wat deur Maties Sport en veral die leiers van die verskillende koshuis-sportligas, was deurgaans duidelik. Dit het beslis bygedra tot die sukses. Die idee om verskeie spanne van dieselfde koshuis op dieselfde aand te laat speel, is iets waarvoor ons uiters dankbaar is. Dit het inwoners die kans gegee om daar te wees vir al die spanne. Dit het ’n positiewe atmosfeer geskep, nie net tydens die aand nie, maar die hele dag voorafgaande. Dit, tesame met ons derby-wedstryde teen Wilgenhof, het verseker dat emosies en passie hoog geloop het. Dit alles bygedra tot ’n wonderlike geleentheid!”

Studente is die geleentheid gegee om by tente wat agter Die Stal gestasioneer was en by die Coetzenburg-netbalbuitebane te sosialiseer.

“Die energie was deurgaans hoog met die bumperaande. Die kompetisie was intens, maar daar was ook baie sportmanskap onder die spanne wat balans verseker het. Dit was ’n ware viering van sport. Die wedstryde was propvol aksie. Daar was vreugde oor seges en lesse uit die nederlae,” het die Nooitgedacht C-sokkerkaptein, Ndimuhulu Tshishonga, gesê.

Maties Sport se Hoofdirekteur, Ilhaam Groenewald, het gedeel wat om te verwag wanneer jy by die inisiatief aansluit. Sy het ook alle departement en studente betrokke aangemoedig om volgende jaar deel te neem.

“Hier is wat jy kan verwag as jy deel word van ons kampussport-program:

  • Word fiks en bly aktief: Ons program bied ’n verskeidenheid sportkodes en aktiwiteite wat ontwerp is om jou fiksheid te verbeter. Jy sal heelwat geleenthede hê om jouself te uit te daag en jou uithouvermoë, krag en beweeglikheid te verbeter.
  • Ontdek jou potensiaal: Ons toegewyde span sal leiding, ondersteuning en toegang tot individuele planne bied om jou vaardighede te ontwikkel, jou tegniek te verbeter, en jou doelwitte te bereik. Of jy nou mik om te kompeteer, deel te neem, of eenvoudig net wil verbeter, ons is hier om jou vordering en sukses te ondersteun.
  • Smee lewenslange vriendskappe: Sport het ’n unieke manier om mense bymekaar te bring en deur aan ons program deel te neem, sal jy die kans kry om medestudente te ontmoet wat jou passie vir sport en fisieke aktiwiteite deel. Deur ons verskeie aktiwiteite, liga, en sosiale gebeurtenisse, sal jy medestudente ontmoet, lewenslange vriendskappe smee, blywende herinneringe skep, en deel word van ’n veel nouer Stellenbosch Universiteit-gemeenskap.”

Dit is slegs die begin vir die Kampussport-aande. Die bekendstelling van die geleenthede was ’n groot sukses. Toekomstige aande is reeds in die beplanningsfase vir 2024. Maties Sport hoop om jou daar volgende jaar te sien.

 

Deur Kimara Singh