Maties toon krag by 2025 USSA Winterspele

Atlete van die Stellenbosch Universiteit het merkwaardige deursettingsvermoë en vasberadenheid tydens die 2025 Universiteit Sport Suid-Afrika (USSA) Winterspele ten toon gestel, met uitmuntende vertonings in veral vrouehokkie, netbal en muurbal. Die kodes het aansienlike beter vertonings gelewer in vergelyking met verlede jaar en dié jaar twee goue, vier silwer- en twee bronsmedaljes Matieland toe gebring.

Vrouehokkie seëvier op tuisveld

Die USSA Afdeling A hokkie-toernooi is op Maties se nuut opgegradeerde Coetzenburg-astroturf aangebied. Die vrouespan is as kampioen voor ’n ondersteunende tuisskare gekroon. Dit was ’n spesiale oomblik vir die studente om voor hul ouers te speel.

Ongelukkig het die manspan op die pynlikste manier moontlik die goue medalje verloor. Hulle het die eindstryd gehaal, maar is deur UP-Tuks in ’n strafdoelwedstryd geklop. Daar was ’n troosprys vir Daniel Dillon wat vir die tweede agtereenvolgende jaar as Doelwagter van die Toernooi vir die mans se toernooi aangewys is.

Ander individuele toekennings sluit in:

  • Speler van die Toernooi: Daniella de Oliveira
  • Doelwagter van die Toernooi: Richele Norval
  • Voorste doelskieter van die Toernooi: Daniella de Oliveira
  • Voorste doelskieter van die Toernooi: Brett Horn

Rugby span wen silwer ná drie jaar se oorheersing

Maties se 15man-rugbyspan het net-net uit gemis op ’n vierde agtereenvolgende USSA-titel toe hy in ’n mededingende eindstryd teen UP-Tuks verloor het. Hoewel Maties met 21–18 voorgeloop het, het Tuks terugbaklei en ’n laat strafskop het die oorwinning vir die tuisspan beklink. Die eindtelling was 26–21. Ten spyte van die nederlaag het Maties ’n welverdiende silwermedalje verower.

Die Maties vrouerugbyspan het vanjaar nie vir die uitspeelrondes gekwalifiseer nie. Na ’n sterk veldtog het die span uiteindelik in die vyfde plek geëindig.

 

Netbal wen Afdeling B, Afdeling A nie op podium

Maties Netbal het indrukwekkende resultate in verskeie afdelings behaal. Die Afdeling B-span is as die USSA Afdeling B-kampioen gekroon, terwyl die Afdeling A-span net buite die podium geëindig het met ’n algehele vierde plek.

Vroue 3×3-basketbal wen brons

Tydens die 3×3-basketbalkampioenskappe, wat van 4 tot 9 Julie by Wits Universiteit plaasgevind het, het beide Maties-spanne goeie vertonings gelewer. Die vrouespan het ’n bronsmedalje gewen, terwyl die manspan vyfde geëindig het.

 

Binnenshuise vlugbal-debuut

Beide die mans- en vrouespanne het ’n indrukwekkende eerste verskyning gemaak by USSA se binnenshuise vlugbalbyeenkoms. Hoewel hulle nie die halfeindstryd gehaal het nie, was Maties se spel ’n duidelike teken van vooruitgang. Die uitblinkers Jess Lavies, Daniel Barrett en Nicolas Magnal is vir die USSA Nasionale vlugbalspan gekies.

Muurbal en pluimbal bly konsekwent

Maties Muurbal het in 2025 sy mededingende tradisie voortgesit. Ná ’n goeie vertoning in 2024, waar die A-span brons en die B-span silwer verower het, het albei spanne vanjaar weer op die podium geëindig: die A-span het brons gekry en die B-span silwer. Maties Pluimbal het net-net uit gemis op die goue medalje en het silwer by die USSA-pluimbaltoernooi wat by UP-Tuks aangebied is, gewen.

Baie geluk aan al die Maties-atlete, afrigters en ondersteuningspersoneel vir hul goeie prestasies by die USSA Winterspele.

 

Algehele medalje-uitslag:

  • Goud (2): Vrouehokkie A, Netbal B
  • Silwer (4): Manshokkie, Mansrugby XV, Pluimbal, Muurbal B
  • Brons (2): Vroue 3×3 Basketbal, Muurbal A

 

Deur Jamie Wyngaardt